Deneysville groet ‘n staatmaker-sakeman
Ten spyte van al sy sakeprestasies deur die jare, was materiële goedere ver onder op sy prioriteitslys.
Deur Bronwyn Adams
‘n Voormalige burgemeester van Deneysville, mnr. Matthys (Thys) Johannes Campher, is Sondag 9 Julie vreedsaam oorlede. Dit was slegs ‘n paar weke voor hy op 1 Augustus 88 sou word.
Thys en sy vrou Lottie (84) was ses dekades getroud. Buiten sy vrou word hy ook oorleef deur vyf kinders, tien kleinkinders en twaalf agterkleinkinders.
Sy familie, vriende en sakekennise bestempel hom as ‘n bastion van die samelewing, ‘n ware rolmodel en in wese ‘n ware “gentleman”.
Groei was sinoniem met Thys Campher, hetsy dit in besigheid, politiek, sy persoonlike of gesinslewe was. Vandaar dat sy vrou goedig na hom verwys het as “Big Chief Sitting Bull”, met spesifieke verwysing na sy gietyster-besluitnemingsvermoëns! Hy was bekend as ‘n man wat elke uitdaging met geesdrif aangepak het.
Thys en sy gesin het in 1981 na Deneysville verhuis waar hy ‘n tak van Chase & Sons Properties geopen het. Daarna het hy sy eie besigheid, Thys Campher Estates, begin, wat uiteindelik die hoofeiendomsagentskap in die dorp en omliggende omgewing geword het.
Die agentskap het oor vier dekades met rasse skrede gegroei. Dit is in 2017 onder sy toegewyde leiding aan Marinda Bierman verkoop.
Thys het deur die jare die politiek betree en het in die 1990’s burgemeester geword – ‘n amp wat hy twee keer beklee het – en het tot 2006 as raadslid gedien.
Hoewel hy deur baie as ‘n swaargewig in die eiendomsbedryf, ‘n politikus, ‘n mentor en ‘n ‘man about town’ beskou is, gaan hy die beste onthou word as liefdevolle hoof van sy gesin, warm, vrygewig van gees en ‘n soort mens vir wie etiese en morele beginsels uiters belangrik was.
Ten spyte van al sy sakeprestasies deur die jare, was materiële goedere ver onder op sy prioriteitslys.
Sy prioriteite is waarskynlik die beste vasgevang deur ‘n opregte gebaar wat hy gereeld aan sy vrou gemaak het: hy het haar gereeld met ‘n groot bos blomme verras. Die bewys van ‘n ware, kleurryke lewe.
RIP Thys Campher.

