Local newsNews

Opdatering: Groot hartseer toe Michael hoor sy broer is dood

Ouers lig hom in toe hy aandring om alles oor die ongeluk te hoor

 

Vandag, Saterdag 22 Julie, was ‘n uiters emosionele dag vir Michael Pretorius (21) en sy ouers: Hy is vanoggend deur hulle ingelig dat sy boetie, Nicky (23), gesterf het na die tragiese motorongeluk naby Sasolburg.
“Ons het beplan om Michael eers vanmiddag, wanneer sy ander boeties ook by sou wees, te vertel van die ongeluk en dat Nicky oorlede is, maar hy het vanoggend daarop aangedring om dadelik te hoor wat alles gebeur het.

“Dit was vreeslik moeilik vir ons om hom te vertel en om sy reaksie te aanskou. Toe hy hoor van sy boetie se dood het hy histeries begin huil maar hy is nou rustiger. Ons het vir hom foto’s gewys van die begrafnis en die ongelukstoneel en die kar want hy wou dit sien. Ons het gesê dat ons hom nie (vir die ongeluk) blameer nie. Ons is nie kwaad vir hom nie. Dit voel soos ‘n berg van ons rug af dat hy nou weet,” sê die seuns se pa, mnr. Nicky Pretorius. Hy en sy eksvrou, mev. Lena Rossouw, is elke oomblik wat hulle toegelaat word, langs Michael se bed in Bloemfontein se Pelonomi-hospitaal.

Michael se bobene, wat verskeie frakture in die ongeluk opgedoen het, is gister in ‘n operasie van 7 ure en 30 minute belyn. Die operasie het goed afgeloop hoewel sy linkerbeen waarskynlik ‘n bietjie korter as sy regterbeen gaan wees. Dokters sê egter sy bene behoort andersins ten volle te herstel na die operasie.

Onder omstandighede gaan dit redelik goed met Michael. Hoewel ‘n lang pad na fisiese en psigiese herstel voorlê, kon hy vanmiddag al met die hulp van sy ouers ‘n kort video maak om weer eens almal te bedank wat in hierdie moeilike tyd aan hom dink en vir hom bid.

* Vriende en familie het ‘n reeks insamelingsveldtogte geloods om Michael en sy ouers te ondersteun met sy verdere behandeling en rehabilitasie, wat waarskynlik maande gaan duur. Ondersteun gerus enige van die projekte by hierdie skakel: https://ywyway.com/family-support/

Michael Pretorius vanmiddag (22 Julie) in die Pelonomi-hospitaal
Michael (links) en sy broer, Nicky, wat op 29 Junie, ‘n dag na die ongeluk, gesterf het.
Die wrak van die broers se voertuig.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button