Local newsNewsNews

Die koeël is deur die kerk vir Kettie en Klip

VANDERBIJLPARK. - Daar is seker nie 'n beter wenresep vir 'n huwelik as om met jou beste maat te trou nie. Lees gerus Kettie en Klip se liefdesverhaal.

Dit het verlede Saterdag vir HTS Carel de Wet se Kettie en Klip realiteit geword toe hulle die knoop deurgehak het.

Damian en Elzaan (beter bekend as Kettie en Klip onder kollegas) se paadjies het gekruis toe albei hul loopbane by HTS Carel de Wet voortgesit het.

Damian het in Vanderbijlpark grootgeword en het in 2006 as ‘n Carel gematrikuleer, waarna hy sy ambag gedoen het en later in NDT (Non-Destructive Testing) gespesialiseer het.

Elzaan het op haar beurt in Sasolburg grootgeword en het in 2011 aan Höerskool Sasolburg gematrikuleer. Sy het ‘n graad in Gedragswetenskap verwerf en later ook ‘n nagraadse Onderwyssertifikaat.

Hul storie begin by HTS Carel de Wet waar hulle mekaar in Maart 2021 ontmoet het. Elzaan as onderwyseres in Besigheidstudies en Wiskunde, en Damian as onderwyser in Siviel en Tegnologie.

“Die groot grap is dat nie een van ons beplan het om skool te hou nie, maar die lewe het ons in die rigting forseer en ons is albei sielsgelukkig in ons huidige beroep,” vertel Damian.

Die twee het sommer dadelik as kollegas gekliek en beste vriende geword. Hul liefde vir mekaar het egter sy eie wentelbaan gevind en 18 Augustus 2021 het hulle amptelik begin uitgaan.

Damian en Elzaan Lewis op hul troudag.

Hulle het 10 Julie vanjaar verloof geraak. Die troue is in ‘n maand se tyd gereël, en dit was “asemrowend”. Hulle is Saterdag, 15 Julie op Droomplaas in Vanderbijlpark getroud.

“Mense glo nie meer in sprokies nie, en om eerlik te wees, ons het ook nie. Ons het albei deur diepwaters gegaan voordat ons mekaar gevind het in hierdie stukkende wêreld,” sê Damian.

Albei het kinders uit vorige verhoudings wat die groot dag saam met hulle gedeel het, en binnekort word hul gesin van vier, vyf. Na verwagting sal hul kleinding in Januarie gebore word.

Hulle weet nog nie wat die geslag is nie en het dus ook nog nie ‘n naam in gedagte nie.

* Vaalweekblad wens die egpaar en hul gesin baie vreugde toe.

Geluk is … ‘n familie van vier wat binnekort vyf word. Saam met Damian en Elzaan is sy dogter Shailee Lewis (13) en Elzaan se seun Zehan Wessels Lewis (6).
Damian en Zehan. Foto’s: Verskaf

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button