Oud-Valie vat langpad oor die VSA
Avontuurlustige Paul ry dwarsoor die VSA met 'n fiets. Lees meer.
VEREENIGING. – Elaine Erasmus van Drie Riviere skud nog kop oor haar avontuurlike seun Paul wat sommer vir die pret dwarsoor die VSA fietsgery het.
Sy is ook trots op hom, want van die ses wat die tog aangepak het, het hy eerste klaargemaak.
Paul het in 2001 aan die Hoërskool Drie Riviere gematrikuleer maar woon deesdae in Johannesburg.

Hy was onlangs in die VSA vir ‘n vakansie. Nie sommer enige vakansie nie, wel ‘n fietstoer van 5 577 km.
Hy was nog altyd lief vir fietsry en sê hy het al ‘n hele paar fietstoere aangepak.
“Die VSA het heelwat fietsry infrastruktuur en bestaande roetes asook ‘n paar plekke wat ek wou sien. Omdat dit net een land is, is dit ook makliker om visas ensovoorts te reël,” verduidelik hy.
Hy het besluit om die “Bike Non Stop” roete aan te durf, waar die organiseerders net vir jou die roete vir jou GPS gee.
Jy moet self vir jou kos en akkommodasie sorg. Ses ryers het in Portland aan die Amerikaanse Weskus weggespring en 23 dae later, op 11 Julie, het Paul by die Lincoln Memorial in Washington DC aan die Ooskus gestop.
Die tweede ryer het die 13de klaargemaak, twee ryers ‘n week later, en twee het langs die pad opgegee.
Paul sê hy het sowat 10 tot 11 ure per dag gery, maar darem gestop om te eet en koffie te drink.
In die aande kon hy meeste van die tyd slaapplek in motelle kry. Daar was wel klein dorpies sonder enige akkommodasie en dan het hy sy tent op ‘n kerk se grasperk opgeslaan.
Hy vertel dat in Portland, waar hul begin het, daar baie fietsryers is. Daar is blykbaar 600 km se fietspaaie in en om die stad.
In die middel van die land is daar heelwat ou spoorweë wat omskep is in fiets- en wandelpaaie en rondom die roetes is daar dorpies wat gewoond is aan fietsryers wat hulle besoek.
In die ooste vanaf Ohio tot by Washington is daar oral fietsroetes en mens sien heelwat mense wat met hul fietse toer.

Vir hom was die natuurskoon langs groot gedeeltes van die roete ‘n hoogtepunt en hy sê hy wens hy kon ‘n paar dae langs die Salmonrivier in Idaho kamp.
Hy het die ekspedisie alleen aangepak. Hy en ‘n ander deelnemer, Silvano Colombo van Italië, het wel die eerste 10 dae saamgery, voordat die Italianer vir Paul aangemoedig het om alleen verder te ry, nadat Silvano een dag nie lekker gevoel het nie.
Silvano het die roete twee dae na Paul voltooi. Dit was juis die Italianer wat vir een van die komiese oomblikke op die roete gesorg het.
Paul sê op een van die fietspaaie was daar ‘n groot ketting wat oor die pad gespan was waar dit ‘n pad kruis sodat motors nie daar kan indraai nie.
Silvano het nie die ketting gesien nie en het volspoed daarin vasgery en met ‘n boog van sy fiets af getrek.
“Hy kan nie Engels praat nie, maar ek het ‘n paar Italiaanse vloekwoorde geleer daai dag,” lag Paul.
Paul wat avontuurlustig van geaardheid is, sê hy was nog altyd gretig om nuwe dinge te beleef en plekke te sien.
Sou hy ooit weer so ‘n geleentheid kry, sal hy dit met albei hande aangryp.
