Anti-boelie week by Laerskool Midvaal gehou
Laerskool Midvaal hou van Maandag 24 Julie tot Vrydag 28 Julie 'n anti-boelieweek om bewusmaking rondom afknouery en boeliegedrag te skep.
MEYERTON. – Maandag 24 Julie het leerders en onderwysers van dié skool soos bleeksiele (“nerds”) aangetrek om te wys dat almal uniek is en niemand verdien om gespot te word nie.
Dinsdag 25 Julie word leerders aangemoedig om met hoedens en tutu’s skool toe te gaan om te wys dat almal se smaak verskil en dat dit okei is om ‘n opinie van jou eie te hê.
Woensdag 26 Julie gaan leerders skool toe met snaakse tassie. Die doel daarvan is om leerders te wys dat almal hul probleme anders dra, maar dat almal mekaar kan help dra.
Donderdag 27 Julie moet leerders plakkate maak om ander met positiewe woorde te inspireer en Vrydag Julie trek hulle pajamas aan om die boodskap uit te stuur dat almal in hul eie vel gemaklik behoort te wees.
Dit is alles ter bewusmaking van die probleem van boeliegedrag en afknouery wat daagliks in skole plaasvind.
Hierdie soort afknouery kan ‘n verreikende en blywende impak hê op individue wat dit ervaar, sowel as op die breër gemeenskap.
Die sielkundge effek van afknouery duur dikwels vir jare en kan ‘n lae selfbeeld en ‘n gebrek aan selfvertroue tot gevolg hê.
Afknouery kan ook leerders se skoolwerk negatief beïnvloed, in uiterste gevalle tot selfdood lei.
Dit is waarom dit uiters belangrik is om afknouery aan te spreek sodra die eerste tekens daarvan bespeur word.




