Kreatief, uniek en lekker soet
Sy is bekend vir haar eksie-perfeksie troukoeke en het al 'n slag haar buiging op TV gemaak. Maak nader kennis met ons eie bobaas bakker, Celeste Kruger
VANDERBIJLPARK. – Celeste Kruger het dit jare gelede geniet om Cake Boss te kyk.
Die yslike intrinsieke koeke wat Buddy Valastro en sy span opgetower het, was vir haar ‘n groot inspirasie.
Sy het haar hand aan bak gewaag en ‘n koek vir haar dogtertjie se doop gebak en kort daarna een vir haar eerste verjaardag.
Die koeke het groot aftrek gekry en toe begin vriendinne en vriendinne se vriendinne vra sy moet vir hulle ook bak.

“Dit was soos ‘n ontploffing, toe ek weer my oë uitvee het ek ‘n hele besigheid,” lag sy vrolik.
Celeste het daaraan gedink om te gaan vir formele opleiding, maar sy het net te besig geraak.
Vandag bestaan haar besigheid, Sweetly Cakes, al 11 jaar. Alhoewel sy enige koek bak, van doop tot verjaardae, het sy bekendheid verwerf vir haar troukoeke.
So was sy al verskeie kere op die televisie te sien in onder andere kykNET se Kom ons trou nou en Mzanzi Magic se Our Perfect Wedding.
Haar kreatiewe skeppinge het ook al male sonder tal in tydskrifte verskyn. Onder haar kliënte tel Elizma Theron, Zetske van Pletzen en Mej. Heelal 2017, Demi-Leigh Nel-Peters.
Sy het ook die troukoek gebak vir die glanspaartjie van Getroud met Rugby, Werner en Marijke Coetser.
Haar grootste hoogtepunt was om haar koekbakheld, Buddy Valastro te ontmoet.
“My man het vir ons kaartjies gekry vir die Good Food en Wine Show waar Buddy ‘n demonstrasie gegee het. Ek was so opgewonde en het dat hy twee van my boeke teken,” vertel sy.

Celeste geniet dit om so nou en dan self ‘n koekversier demonstrasie te doen, maar haar tyd is baie beperk.
“Ek probeer om net so 12 koeke ‘n week te bak, maar ek sukkel om nee te sê en soms eindig ek met 17 koekbestellings. Daardie weke slaap ek glad nie.
“Ek doen alles self, van die aankope tot by die laaste versierings. Elke koek moet 100% wees,” beduie sy.
Sy onthou sy het een jaar vir 180 dames ‘n demonstrasie gehou. “Dit was vir die Rotariër Klub van Vanderbijlpark se fondsinsamelingsprojek en dit was nogal senutergend.
Gelukkig het alles goed afgeloop.”Celeste deel graag haar kennis wat sy soos syself sê “deur trial en error” bekom het.
“Ek is deel van die Vaaldriehoek Bakgroep. Ons is sowat 26 bakkers op die groep, elkeen met ‘n eie spesialiteit en ons help mekaar graag.”
Meeste van die koeke wat sy bak en versier vind hul weg na huise in die Vaaldriehoek, Potchefstroom, Parys en Hartebeespoort, maar sy het al ‘n sewe-laag troukoek gebak vir ‘n paartjie in Zimbabwe.
“Gelukkig het hulle dit self kom afhaal.” Sy het ‘n Nissan Duke koek opgetower, ‘n kantoorgebou en ‘n Harley Davidson motorfietskoek.
“Ek luister na wat my kliënte wil hê en dan probeer ek my bes. Ek het al snaakse versoeke gekry, soos die slangkoek wat ek moes bak vir ‘n man wat ‘n vrees vir slange gehad het.”
“Die lekkerste is dat ek ‘n konsultasiekamer en studio hier by die huis het waar ek al my onderhoude, bak en versierwerk kan doen. Ek geniet wat ek doen en kan my kreatiwiteit elke dag uitleef. Ek sou nooit roetine kantoorwerk kon doen nie,” erken sy.
Wat is die bakker se gunsteling geur koek? “Ek hou regtig baie van my aarbeikoek. Dit het roomkaas en aarbeikonfyt in die binnekant en die wortelkoek is ook baie lekker.”

Celeste kan enige geur koek bak, maar sê die meeste mense bestel vanilla. Haar twee kinders weet hul kry elke jaar besondere skeppings vir hul verjaardae.
“Elke partytjie moet ‘n koek hê. Dit is ‘n fokuspunt en wat is dan nou ook lekkerder as tuisgebakte koek?”
