Moeilike dag op kantoor vir Hap en Kap-hengelaars
Die koue wind en voorafgaande koue front het veroorsaak dat die visse traag was om hoek te vat.
SASOLBURG. – Die Hap en Kap Hengelklub het die afgelope naweek sy maandkompetisie buite Oranjeville by Ardenza, Vaaldam gehou.
‘n Totaal van 16 klublede en een besoeker het die koue trotseer met die hoop om daardie grote aan wal te bring.
Vir heelwat van die hengelaars was dit nie ‘n maklike dag langs die waters nie.
Die koue wind en voorafgaande koue front het veroorsaak dat die visse traag was om hoek te vat. Soos een hengelaar dit opgesom het: “Dit was ‘n moeilike dag op kantoor”.
Die 17 hengelaars kon slegs 41 vis met ‘n gewig van 28,652 kg inweeg vir punte.
Die veterane wenner was Bez Bezuidenhout met 6 vis (4,015kg) en die senior wenner was Kit Taljaard met 3 vis (3,725kg).



