Drie beseer in botsing tussen Heidelberg en Vereeniging
Drie mense is beseer toe ’n ligte afleweringsvoertuig en ’n bakkie Vrydag (21 Julie 2023) op die R42 tussen Vereeniging en Heidelberg gebots het.
VEREENIGING. – Een van die beseerdes, ‘n 33-jarige man, het ernstige tot kritieke beserings opgedoen, terwyl twee ander mans ligte tot matige beserings opgedoen het.
Nooddienswerkers van ER24 en die Midvaal-brandweer was omstreeks 12:00 op die toneel en het die bakkie op sy dak aangetref met die enjinkap onder die afleweringsvoertuig wat sand vervoer het.
Die 33-jarige bestuurder het in die bakkie vasgesit en is met behulp van reddingskake uit die wrak verwyder.
Hy het verskeie frakture in die botsing opgedoen en is op die toneel behandel.
Daarna is hy na Mediclinic Vereeniging geneem is vir verdere behandeling.
Die ander twee mans is na die Kopanong Hospitaal geneem vir verdere behandeling.
