Groot waterlek by Sonhof Woonstelle
Water spuit glo al sedert 02:00 Woensdagoggend (26 Julie 2023) onverpoos uit 'n gebreekte kraan by die Sonhof Woonstelle in Duncanville.
VEREENIGING. – Inwoners van die laekoste behuisingskema sê die probleem is reeds by die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se departement van behuising en menslike nedersettings, sowel as die munisipaliteit se departement van fasiliteite, wat verantwoordelik is vir die bestuur van die woonstelblok, gerapporteer.
Ten spyte daarvan lek dit nog steeds en niks is nog gedoen om die probleem aan te spreek nie.
“Hulle het net ‘n baksteen op die kraan kom sit,” het ‘n inwoner van die woonstelkompleks aan Vaalweekblad vertel.
Die onderliggende probleem waarmee die sowat 60 arm gesinne in dié woonstelblok mee sukkel is ‘n algehele gebrek aan instandhouding.
Vaalweekblad het vroeër berig dat waterlekke wat nie reggemaak word nie oor ‘n lang tydperk die fondasie van die gebou tot so ‘n mate verswak het dat die boonste vloere van meeste van die vleuels van die woonstelgebou reeds onveilig verklaar is.


