Ierland wink vir die kranige rugbymanne
Vier kranige rugbyspelers se Ierland toer drome kan deur 'n tekort aan finansies gekelder word. Lees meer
VEREENIGING. – Hulle leef vir hul rugby, hou nie van stilsit nie en is altyd reg om bietjie die bal lug te gee.
Dis Jean-Pierre (JP) Pieterse, Tiaan van den Heever, Marco van den Heever en Ruan Swanepoel. Die vier het al menigmaal saam op die rugbyveld uitgedraf.
Die laaste twee jaar het hul vir die Honey Badgers in die Rhino Week meegeding en die manne is baie trots dat hul span verlede jaar die o.12 toernooi en hierdie jaar die o.13 toernooi gewen het.
Al vier is in graad 7 en beklee leiersposisies in Laerskool Vryheidsmonument en Laerskool Risiville.
Die vier staan op die punt om groot rugby drome te verwesenlik. Hulle is, saam met nog drie Valies, gekies om deel van die Rhino Toerspan na Ierland in Desember te wees.
Die ander manne is Jayden en Tiaan le Roux (nie broers nie) van Laerskool Midvaal en Kean Meyer van die Laerskool Risiville.
Dan is nog ʼn Valie, Francois van den Berg (Laerskool Midvaal) gekies as toerspan afrigter.
Die opgewondenheid is groot onder JP, Tiaan, Marco en Ruan. Om Suid-Afrika oorsee te gaan verteenwoordig is hul droom nou al van hul Bulletjie-rugby dae af.
Daar is net een groot hekkie in die pad van die vier se ideale, finansies.
Die toer gaan elke rugbyspeler sowat R55 000 (sonder sakgeld) uit die sak jaag. Alhoewel, Desember nog ver klink, moet die gelde in paaiemente vooraf betaal word.
Die eerste van hierdie betalingsspertye is 31 Julie. Dan moet elkeen ʼn R10 000 betaling doen, alvorens hul, hul amptelike borgvorms waarmee hul na besighede kan gaan ontvang.
Dit is groot geld vir gemiddelde huishoudings en in die Van den Heever huishouding is dit ʼn dubbele dosis.
Tiaan en Marco is ʼn tweeling en albei is vir die span gekies. Ondenkbaar om die vier vriende op te breek.
Daarom het hul ouers nou besluit om saam te span om geld in te samel vir die vaardige vier.
Die seuns sê hulle sal enige iets doen om geld te verdien, maar hul verstandige ouers sê hulle sal hul nog toelaat om motors te was, maar op die hoek staan met ʼn blikkie gaan nie werk nie.
Nou word daar beplan om later verskeie insamelingsprojekte te loods. Die probleem is egter die eerste sperdatum van 31 Julie.
Indien enige besigheid of individu hul weg oopsien om die seuns se droom te verwesenlik kan donasies direk in die organiseerders se bankrekening inbetaal word.
Die bankrekeningbesonderhede is:
Bank: Standard Bank, Vereeniging
Takkode: 4637
Rekeningnaam: THE DIRECTORS PRESTIGE PRESTIGE JEUGSPORT (PTY) LTD
Rekeningnommer: 02 182 325 1
Tjekrekening
Maak asseblief van die verwysing: JTRM4 gebruik.
Die seuns is almal kranige sportmanne. JP, wat op ʼn jong ouderdom met sy gesondheid gesukkel het, het met harde werk en geloof vasgebyt en is vandag ʼn trotse eerstespanspeler vir sy skool.
Nadat daar gesê is dat hy nooit weer sal kan rugby speel nie, het hy vasgebyt en verlede jaar weer kompeterend begin speel.
Hy is ʼn sterk agsteman met baie spoed wat gemaklik bo-oor sy teenstanders loop.
Natuurlik sal hy eendag ʼn professionele rugbyspeler wil word, andersins beslis ʼn boer.
Hy het ʼn groot liefde vir diere en noem trots al hul troeteldiere op, van die vistenk in sy kamer tot by hul vyf honde.
Tiaan en Marco het vier honde, twee katte en 15 skilpaaie by die huis. Tiaan reken hy wil eendag ʼn geoktrooieerde rekenmeester word, maar soos die ander is sy kop op die stadium net op rugby.
Die twee boeties speel ook vir Laerskool Vryheidsmonument se eerste krieketspan en dan het hul ook hierdie jaar besonder goed gevaar op die atletiekbaan. Tiaan is flank en Marco speel slot.
Ruan sak op haker, maar speel ook krieket vir sy skool se eerstespan. Die vier is getroue Springbokondersteuners en hulle is dit eens dat Malcolm Marx die beste haker in die wêreld is.
