Local newsNews

Midvaal-Raadsheer gee sy mening oor sake wat inwoners raak

"Hoe meer ons leer en hoe meer ons te wete kom van hoe plaaslike regerings werk en die uitdagings waarmee daar op daaglikse basis gestoei word, hoe meer respek kry ons vir die werk wat die personeel van Midvaal doen," sê Raadsheer

Deur Phil C. Pretorius, Raadsheer en Hoofsweep, Midvaal Munisipaliteit:
Rian van Heerden het ‘n nuwe geselsprogram op kykNET genaamd Laataand by Rian. As kontroversiële figuur gesels hy met ander uitgesproke persone oor hul doen en late. Onlangs maak Gareth Cliff die uitlating op hierdie program dat hy nie ‘n politikus wil word nie en dat ons alles het wat ons het en oorleef TEN SPYTE VAN politici. Sulke, en ander skerp opmerkings en grappies oor politici sny diep maar is duidelik gegrond in ‘n persepsie wat bestaan oor die professie wat mens veral deesdae nie kan teenvoeter nie.

Ek glo vas dat in die DA (en selfs ander partye) daar daadwerklike beweging en die wil is om ‘n verskil te maak en die regte ding te doen. Ek sien hoe die raadslede van Midvaal die afgelope jare funksioneer en besef dat ons kop en skouers uitstaan bo die stereotipe van “die negatiewe politikus”. Só drasties verskil Midvaal-raadslede se waardes en werkswyses van die stereotipes dat ek eerder na myself verwys as ‘n GEMEENSKAPSWERKER as ‘n politikus.

Gareth Cliff se opmerking laat my besef dat die korrupsie in Suid-Afrikaanse politiek so uit beheer is dat daar min salf aan te smeer is. Ongelukkig is die kenmerk van stereotipes dat die hele groep oor dieselfde kam geskeer sal word van die samelewing se persepsies oor ‘n handjie vol oortreders. Gelukkig weet ons ook dat daar altyd uitsonderings is. Midvaal se goeie rekord en voortdurende prestasies getuig van uitsonderlike bestuur en leierskap en is ‘n bewys dat hierdie politici strewe na uitnemendheid en diens. Natuurlik is daar gevalle van glipse want ons is maar almal menslik en niemand is immuun teen die gif van politiekery nie. Die maatstaf is die intensies, intensiteit en verantwoordbaarheid van die probleme wanneer dit opduik. Ek sê by herhaling dat Midvaal nie volmaak is nie en dat daar baie ruimte vir verbetering is.

Dit moet in konteks gesien word met wat die situasie behels, toelaat en hoe dit vergelyk met soortgelyke instellings. Natuurlik moet ons onsself met ander instellings vergelyk. Ons kan nie sê hier is 10 slaggate en nou is Midvaal pateties nie. Die ideaal is dat daar geen slaggate sal wees nie… maar is dit realisties? Wanneer ons onsself met soortgelyke instansies vergelyk (soos daar dan gereeld gedoen word in toekennings) word appels met appels vergelyk. Die vrae wat gevra moet word is onder andere:

i.) In watter omgewing moet die munisipaliteit funksioneer? Vergelyk ons Midvaal in ‘n ANC Gauteng Provinsie met ander in die DA-beheerde Wes-Kaap? Die ondersteuning en bydrae tot die begroting is ligjare uitmekaar. Wat gaan ons doen in die 2024 Provinsiale verkiesing om Gauteng DA te maak en die Wes-Kaapse model hier te implimenteer? Dink net wat dit ook vir die ander munisipaliteite in Gauteng sal beteken.

ii.) Wat is die ligging, natuur- en omgewingsfaktore wat die munisipaliteit mee moet werk? Neem ons in ag dat Midvaal geografies die grootste munisipaliteit in Gauteng is met die kleinste populasie en derhalwe die kleinste begroting? Om die Savanha-graslande (vergelyk fynbos in Wes-Kaap) te sny, grond- en teerpaaie in stand te hou (hou donderstorms en laaste drie jaar se ongekende reënval in gedagte) en oppervlakte te dek met die minimale personeel en begroting wat Midvaal het, is bloot fenominaal.

iii.) Moet ons Midvaal met die onmiddelike bure vergelyk? Wel as ons al die bogenoemde faktore gelyk kan stel (wat ons nie kan nie want Midvaal is groter en kry minder begroting en ondersteuning) behoort ons bure beter te doen as Midvaal. Soortgelyke reën, natuur, verkeer, provinsie, toegang tot water, elektrisiteit en distriksbegrotings.

So, mens wil jou nie met die slegste vergelyk nie, maar kom ons begin dan ten minste daar waar die tafels gelyk is. Vandaar kan ons erken dat Midvaal nie met oseane en die onderhoud wat daarmee gepaard gaan, opgeskeep hoef te sit soos die ander vier Top Munisipaliteite nie. Moontlik het Midvaal ook voordele wat ander munisipaliteite nie het nie, soos die R59-korridor, die Vaaldam of die hoofsaaklik landelike karakter wat hom nie leen tot ‘n stedelike infrastuktuur of Metro nie. Maar so bring elke eienskap sy eie uitdagings wat op unieke wyses met innoverende aanslag bestuur moet word.
Hoe meer ons leer en hoe meer ons te wete kom van hoe plaaslike regerings werk en die uitdagings waarmee daar op daaglikse basis gestoei word, hoe meer respek kry ons vir die werk wat die personeel van Midvaal doen.
Trotse Midvaal groete, Phil.

Web: www.midvaal.gov.za
Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network
Tel: 0861 643 8225
MyMidvaal App

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button