Local newsNewsNews

Neil Sandilands bekoor by ERT

Dit was sommer 'n lekker tone-omkrul vertoning by die Etienne Rousseau Teater in Sasolburg.

SASOLBURG. – Dit gebeur nie aldag dat die gehoor en die kunstenaars bietjie oorweldig voel deur gebeure nie.

Dit het wel Saterdag, 22 Julie by die Etienne Rousseau Teater gebeur.

Die gehoor was opgewonde om ‘n akteur wat al in die VSA naam gemaak het in lewende lywe te sien en later toe hoor ons die band was opgewonde want hul het nog nooit in so ‘n groot teater opgetree nie.

Neil Sandilands het met sy pouveerhoed almal se harte gesteel. Foto: Gerda Bruinette

Skuins na 14:30 het ‘n gepakte teater asems ingetrek toe Schalk Joubert, Frank Freeman en Ronan Skillen hul verskyning op die verhoog maak, agter die perkussie stel sitplek inneem en kitare optel.

Met die eerste musieknote was die gehoor reeds in vervoering. Met Neil Sandilands wat gejas en met sy pouveerhoed sy verskyning maak, was almal summier verplaas na ‘n ander wêreld.

Die vertoning het te vinnig verby geglip. Asof mens die tyd wou vashou en net nog meer en meer wou hoor.

Ronan Skillen speel op een slag ‘n magdom instrumente en toor klanke uit wat perfek by die musiek pas.

Schalk Joubert en Frank Freeman leef hul absoluut in hul kitaarspel in en dan is daar Sandilands met sy besonderse akoestiese kitaar en natuurlik sy ukulele. Sy stories en lirieke vang vas, betower en voer mee.

Met die laaste note wat nog in die lug gehang het, het die gehoor soos een man opgespring en hul toegejuig.

Sandilands het dit later so op sy Facebookblad verwoord: “Die staande ovasie by die Etienne Rosseau Teater tydens ons laaste “amptelike” vertoning, een vir die boeke.

“Ons’t dié bottel non-alcoholic sjampanje al die pad saamgery van die Kaap af en gistraand was die perfekte oomblik. Ons’t saam met die audience getoast.

“Vanoggend het ons Schalk by OR Tambo afgelaai en vanmiddag lewer ons bediening by Loopstraat, Potch. Uitverkoop. Nie-amptelik. Ek dink ek gaan nog ‘n paar dae met so goofy smile rondloop.”

Saterdag se vertoning was die laaste van die band se Wintertoer – van die Kaap tot Mpumalanga en hulle het die toer op ‘n hoogtepunt afgesluit.

‘n Dag of wat later het hy gesê: “Iewers einde volgende week sal ek weer tot verhaal kom.

“Dié toer sal my altyd bybly. Daar is maar niks lekkerder as om saam met tydgenote, nee, vriende, die pad in hierdie besonderse taal en in hierdie unieke land te tem nie.

“Elke gehoorlid wat ons die voorreg gehad het om te bedien – weet dit – julle was die diesel wat ons tot hier gebring het. Ek lig my pouveerhoed.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button