Local newsNewsNews

Kreatiwiteit laat besigheid blom

Jaco le Roux leef elke dag sy kreatiwiteit uit in sy blomskeppinge.

VANDERBIJLPARK. – Daar is min mense wat kan sê hulle het ‘n besigheid te midde van die Covid-pandemie begin en dit floreer steeds.

Jaco le Roux is een van hulle. Tot vlak voor die pandemie was hy deel van die korporatiewe wêreld. So op die kantlyn was hy egter besig met kunswerk en blomme.

Estelle Dannhauser het hom jare gelede (hy reken dis nou al drie dekades) betrek by die Vaaldriehoek Blommeklub en vandag is hy voorsitter van die klub.

Dit was nog altyd vir hom lekker om met vorms en tekstuur te speel. Vlak nadat die pandemie toegeslaan het, het ‘n vriend hom gevra of hy elke week blomme vir sy vrou kan doen.

Jaco het so gemaak en toe hy weer sien was hy amptelik bloemis. Die een kliënt het twee geword en so deur raaksien en oorvertel het Jaco vandag verskeie kliënte en besighede wat hy weekliks van nuwe blomskeppings voorsien.

Drie van die bestes. ‘n Gedugte span en goeie vriende. Estelle Dannhauser (modeontwerper), Jaco le Roux (blomkunstenaar) en Celesté Kruger (koekbakker).

“Hulle gee my vrye teuels, so ek kan regtig my kreatiwiteit uitleef, binne die begroting natuurlik,” vertel hy.

“Ek geniet dit om van die huis af te werk, maar ek het ook my roetine. Een keer per week ry ek Johannesburg toe om daar by die blommemark die mooiste blomme te gaan uitsoek.

“Vrydae lewer ek die blomme by die besighede en restaurante af. Tussenin is ek doenig met voorbereiding.”

Hy hou van die onmiddellike vervulling wat blomme bied. Elke skepping is uniek en mense geniet dit altyd om blomme te ontvang.

“Wanneer jy blomme kry, weet jy dadelik iemand het aan jou gedink,” glimlag hy.

Jaco vertel dat hul deur die Vaaldriehoek Blommeklub ook deel is van die Gauteng Flora Union en die South Africa Flora Union.

“‘n Mens leer baie by die ander, veral van tegniek. Ek volg ook blomkunstenaars van oor die wêreld op die internet.

“Dis hoe ‘n mens idees kry, partykeer gebruik hul goed wat nie hier beskikbaar is nie, maar ‘n boer maak ‘n plan en dan karring ons met ons eie goed totdat dit vir ons werk,” vertel hy.

Self hou hy daarvan om met een soort en een kleur blom in ‘n blomkunswerk te speel.

Lemmetjie groen is vir hom ‘n besonderse kleur en sy gunsteling blom is ‘n Anthurium.

Jaco pak gereeld trou expo’s aan saam met Estelle en haar dogter, Celesté Kruger.

“Dis lekker. Ons besluit op ‘n tema en dan ontwerp Estelle die trourok en blommemeisierokke, Celesté bak die troukoek en ek doen die blomme. Ons werk baie goed saam as ‘n span.”

Sy raad aan mense wat graag ook hul kreatiwiteit deur blomme wil uitleef is om by die Vaaldriehoek Blommeklub aan te sluit en te onthou: “Jy kan nie iets verkeerd doen met blomme nie. Dit moet net nie omval nie”.

Vir meer inligting oor die blommeklub kontak gerus vir Jaco by 066 205 1586.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button