Local newsNews

Resep vir huweliksgeluk: Vergewe mekaar en bid baie!

Die Mullers vier hierdie maand hul 67ste huweliksherdenking EN oom Koos se 86ste verjaardag!

 

VANDERBIJLPARK. – Toe Koos Muller en Dimpels van Rooyen mekaar in 1954 by ‘n “sing-song” in Kroonstad ontmoet, was dit die voorspel tot ‘n innige liefde. Vandag, byna 70 jaar later, is die lewe steeds ‘n lied vir dié lewenslustige paartjie.

Koos is op 31 Julie 1937 in Clocolaan gebore en het in Ladybrand grootgeword. Dimpels het haar eerste lewenslig op 8 September 1939 in Kroonstad aanskou, waar sy en Koos in Julie 1956 getroud is. Hul oudste twee kinders is daar gebore voordat die Mullers in 1960 na Vanderbijlpark verhuis het. Hier het die gesin met nóg twee kinders uitgebrei.
Koos het aanvanklik krane gedryf op die destydse Yskor maar het later jare sy eie onderneming, MM Skilders, tot stand gebring. Sy hande het nog nooit vir iets verkeerd gestaan nie en hy het ook graag motors hersprei en enjins uitgehaal en herbou.

Dimpels was deur die jare net so ‘n raakvatter wat saam met haar werk as tuisteskepper ook loseerders gehad het, truie gebrei en naaldwerk gedoen het. Daarby is sy ook besonder kunstig met houtsneewerk, sylintborduurwerk en tapisserie as geliefkoosde stokperdjies. Die egpaar bly steeds op hul eie in hul huis in Vanderbijlpark.
Buiten dat die Mullers onlangs hul 67ste huwelikherdenking gevier het, wag daar hierdie week nóg ‘n aangename viering: Oom Koos word komende Maandag 86!

Volgens hul kleindogter, Elize Liversage, is dit ‘n voorreg vir die vier kinders, 13 kleinkinders, 27 agterkleinkinders en twee agter-agterkleinkinders om Oupa Koos en Ouma Dimpels in hul lewe te hê. “Hulle was nog altyd streng maar regverdige ouers en grootouers, wat lief is vir die Here. Hulle is steeds jonk van gees ondanks die lywe wat ouer word,” sê sy.
Die resep vir hul lang en gelukkige huwelik is eenvoudig: Bid baie, kweek uithouvermoë aan, koester jul liefde en wees vergewensgesind teenoor mekaar.

Oupa Koos en Ouma Dimpels vandag.
Oupa Koos en Ouma Dimpels vandag: Baie trots op elke lid van hul nageslag.
Koos en Dimpels Muller op hul troudag in Julie 1956
Koos en Dimpels Muller op hul troudag in Julie 1956
Koos en Dimpels in hul jong dae
‘n Mens kan sien waar Dimpels haar bynaam gekry het!

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button