Local newsNews

Inwoners vrees beskadigde substasie gaan inplof na botsing

Die bakkie se bestuurder het die aand aan omstanders gesê hy het nie die T-aansluiting gesien nie en te laat besef hy pyl op die gebou af. Die gebied is baie donker in die aand omdat geen straatligte werk nie.

 

VANDERBIJLPARK. – “Die substasie is aan flarde. Ek ry elke dag daar verby en kan nie glo dit staan nog nie. Hierdie is ‘n baie gevaarlike situasie… ‘n tragedie wat wag om te gebeur.” Só sê ‘n bekommerde inwoner van Melt Brinkstraat, SE2, nadat die substasie op 9 Mei deur ‘n voertuig getref en die voorste muur oopgeruk is.
Inwoners van die straat het laat die aand ‘n harde slag gehoor en uitgestorm na die substasie, waar hulle gesien het dat ‘n bakkie bo-oor die T-aansluiting van Hobhouse- en Melt Brinkstraat gery en teen die gebou gebots het.
Hoewel die apparaat in die gebou skynbaar nie beskadig is nie en alles steeds funksioneer, is daar ‘n yslike gat in die voorste muur gestamp. Daar is ook ‘n kraak van sowat vyf meter in die bakstene van die muur, wat inwoners laat vrees dat dit saam met die dak inmekaar kan stort.

Foto: Die skade aan die gebou van naderby. Inwoners van Melt Brinkstraat is bekommerd dat die gebou weens ‘n groot kraak in die muur kan instort. Rol ondertoe vir nog foto’s.

Die bakkie se bestuurder het die aand aan omstanders gesê hy het nie die T-aansluiting gesien nie en te laat besef hy pyl op die gebou af. Die gebied is baie donker in die aand omdat geen straatligte werk nie.
Die voorkant van die bakkie is erg beskadig en die stuurwiel en bestuurdersitplek was na die botsing sleg gebuig. Dit is nie bekend of die bestuurder beseer is en agterna mediese hulp ontvang het nie. Hy kon wel op die ongelukstoneel met helpers praat en het gesê hy het die bakkie kort tevore tweedehands gekoop. Van die omstanders het aan Vaalweekblad gesê hulle het op die bakkie se lisensieskyfie gesien die voertuig was in 2020 laas gelisensieer. Die wrak is op versoek van die bestuurder deur mnr. Michael Boshoff van Botha’s Towing na ‘n privaathuis gesleep. Vaalweekblad kon tot dusver nie daarin slaag om die bestuurder weer op te spoor nie.

Dit is nou reeds meer as twee maande na die ongeluk en die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit (ELM) het nog geen poging aangewend om die skade aan die gebou te begin herstel nie. Volgens wyksraadslid Maureen Dosoudil is die substasie wel op ELM se lys van beplande herstelwerk, maar dit sal derduisende rand kos – geld wat die bankrot ELM tans nie het nie.
‘n Kontrakteur het aangebied om die herstelwerk teen ‘n minimale koste van R50 000 te doen, mits inwoners bereid sal wees om die geld in te samel. ‘n Plaaslike steenmaker, JJ Bricks, was bereid om al die stene vir die herstelwerk te skenk, maar aangesien dit nie die regte gebakte tipe steen is wat noodsaaklik vir so ‘n substasie is nie, sal dit nie help nie. Inwoners is bekommerd dat vandale en diewe deur die gat in die stukkende muur toegang tot die toerusting in die substasie sal kry en verdere skade gaan aanrig.
As die gebou instort, kan inwoners wat van dié substasie afhanklik is vir hul elektrisiteitvoorsiening, hulle regmaak om weke lank sonder krag te sit.

‘n Soortgelyke substasie in Teebosstraat, SE3, het in 2020 inmekaargestort. Danksy donasies van materiaal en dienste ter waarde van R750 000 kon dié substasie binne twee weke deur die gemeenskap herbou word. Inwoners van SE2 gaan egter sukkel om soortgelyke donasies bymekaar te maak as hul substasie ook volledig herbou moet word.

Volgens mnr. Kobus Janse van Rensburg, voorsitter van die Emfu­leni Ratepayers Association (ERPA), bepaal munisipale ordonansies (bywette) dat die munisipaliteit binne 24 uur met herstelwerk aan so ‘n beskadigde gebou moes begin het. Hy sê ERPA kan in samewerking met inwoners ‘n hofsaak teen die verantwoordelike werknemers van ELM bring weens hul growwe nalatigheid om nie aandag aan die probleem te gee nie. Emfuleni-hooggeplaastes soos die munisipale bestuurder, die departementshoof van die elektriese afdeling en die verantwoordelike persoon vir openbare werke kan dan met ‘n interdik gedwing word om binne die raamwerk van die munisipale ordonansies op te tree en toe te sien dat die substasie herstel word. Indien hulle dit nie doen nie, sal dit strafregtelik wees en kan hulle persoonlik verantwoordelik gehou word. Dit sal beteken dat daar byvoorbeeld beslag op die werknemers se persoonlike meubels en voertuie gelê mag word om kostes te delg.

Die skade aan die gebou van naderby. Inwoners van Melt Brinkstraat is bekommerd dat die gebou weens ‘n groot kraak in die muur kan instort.
Die bakkie se remmerke was die dag na die botsing nog duidelik sigbaar op die pad. Die bestuurder het beweer dat hy die aand weens die gebrek aan straatligte nie in die donker kon sien dat hy reguit op die substasie afpyl nie.

Die bakkie waar dit op 9 Mei teen die substasie in Melt Brinkstraat, Vanderbijlpark, vasgery het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button