Laerskool Noordhoek se nuwe hoof
Annelie Herbst is pas aangestel as Laerskool Noordhoek se nuwe hoof. Ons het gaan nader kennis maak.
VANDERBIJLPARK. – Mev. Annelie Herbst is pas aangestel as hoof by Laerskool Noordhoek.
Sy was vir die afgelope vier jaar adjunkhoof by die skool. Vir die vorige hoof, mnr. Willem Coetzee is sy baie dankbaar.
“Ek het so baie by Mnr. Willem geleer. Hy het altyd gesê hy maak hoofde en wou voor sy aftrede vyf hoofde opgelei het. Ek was nommer vier,” vertel sy.
Annelie is in Vereeniging gebore en het matriek aan die Hoërskool Drie Riviere geslaag alvorens sy onderwys by die voormalige Potchefstroom Onderwys Kollege geswot het.
Daarna het die lewe met haar wye draaie gegooi en was sy vir lank grondslagfase onderwyseres in Randfontein.
In 2005 het Annelie weer na haar geboortedorp teruggekeer en as departementshoof grondslagfase by Laerskool Vryheidsmonument begin. ‘n Pos wat sy vir 14 jaar beklee het.

Intussen is Annelie met die groot liefde in haar lewe, Coenie getroud. Hulle is agt jaar getroud en sy beskryf hom as ‘n engel.
Coenie is hoof by Laerskool Kollegepark, so is daar nou twee skoolhoofde in die huis.
Sy sê hul vul mekaar aan en gee mekaar raad oor die skoollewe, maar het ook hul tye wat hul die skole agterlaat en saam dinge aanpak.
Annelie was op skool ‘n goeie landloopatleet, maar nou se dae geniet sy dit meer om fiets te ry. Sy is ‘n kranige fietsryer wat al alles van die Argus tot by die 947 gery het.
Sy en Coenie ry gereeld saam fiets en sy het ook al twee keer die Comrades marathon saam met hom aangedurf.
“Om saam te draf en fiets te ry is ‘n goeie manier om van stres ontslae te raak. Ek moet bieg, Coenie is die een wat al die praatwerk doen as ons draf. Ek wag totdat ek my asem terug het by die huis om te praat,” lag sy.

Dit was juis met Coenie se aanmoediging wat sy aansoek gedoen het vir die pos as adjunkhoof by Laerskool Noordhoek in 2019.
“Ek is behoorlik in die diepkant gegooi. Naas die adjunkhoofpligte het ek ook klas gegee vir die grondslagfase en intermediêre fase. Maar, onder Mnr. Willem se leiding het ek soveel geleer en in ‘n kort tydjie baie ondervinding opgedoen,” vertel sy.
Oor Laerskool Noordhoek kan Annelie nie uitgepraat raak nie. Dis duidelik dat sy baie lief is vir die skool en baie trots is op die personeel en leerlinge.
“Mnr. Willem het soveel besondere tradisies nagelaat en ons gaan daarop voortbou. Een daarvan is die Noordhoek dansgroep wat hy 20 jaar gelede gestig het en wat elke jaar vertonings van uitstaande gehalte lewer.”
Dan is daar ook die jaarlikse avontuurkampe vir die verskillende grade en die graad 7’s se opvoedkundige toer Durban toe.
Sy is ook opgewonde oor die groot konsert wat die skool in September gaan opvoer en waarby soveel as moontlik leerders betrek is.
In die voorportaal en die hoof se kantoor blink ‘n weermag bekers en trofeë. Dis duidelik hier word daar met trots gewerk en gespeel.
Annelie sê een van haar grootste uitdagings as hoof gaan wees om ‘n groot hernuwingsprojek by die skool te bestuur.
“Noordhoek is in Januarie 58 jaar oud en daar is gevind dat die skool op sand gebou is en derhalwe is die fondasies nie reg nie.
“Na baie beraadslaging het die Gauteng Departement van Infrastruktuur Ontwikkeling en die Departement van Onderwys besluit om die hele skool te sloop en ‘n nuwe te bou,” sê sy.
In die interim gaan al die klasse in tydelike eenhede op die sportvelde gehuisves word. As alles volgens plan verloop behoort die nuwe skool binne twee jaar te staan.
“Ek is baie bly ons kry ‘n nuwe skool, maar is bietjie benoud oor die ontwrigting,” erken sy.
Dan slaan haar sterk sin vir humor weer deur, “ons sal maar almal waterstewels aanskaf.”
Maak nie saak waar die klasse aangebied word nie, dis duidelik dat Laerskool Noordhoek in goeie hande is, hul hoof Annelie se hart klop warm vir elke kind en vir die skool.
