Local newsNewsNews

Hip hop en hoogskop by Noordhoek dansfees

Laerskool Noordhoek se dansgroep rock hierdie Donderdagaand op Afrikaans en Engels.

VANDERBIJLPARK. –  Laerskool Noordhoek se dansgroep lewer jaar na jaar vertonings van hoogstaande gehalte.

Hierdie jaar is geen uitsondering nie. Om die dansgroep se 21ste bestaansjaar te vier heet hierdie jaar se vertoning, Party Rockers.

Die dansgroep is destyds onder leiding van die voormalige skoolhoof mnr. Willem Coetzee begin en die nuwe hoof, Mev. Annelie Herbst het die versekering gegee dat die tradisie voortgesit gaan word.

Die senior groep bestaan hierdie jaar uit 12 seuns en 16 meisies waarvan bykans almal in graad 7 is.

Hulle het die naweek hul laaste oefenkamp by die skool gehad. Saterdagoggend was dit groot konsternasie om die konsertklere uit te sorteer.

Laerskool Noordhoek het al ʼn spesiale stoor waar die dansgroepe se klere van oor die jare gebêre word en elke jaar word daar nuwe uitrustings uit die oues getoor.

Die onderwysers is verantwoordelik vir die afrigting, musiek en choreografie. Mnr. Tshepo Segalabuthla is hierdie jaar in beheer van die dansgroep en sê hy is baie trots op elke leerder en sy span onderwysers wat soveel ekstra tyd en energie ingesit het.

“Ons oefen elke middag van die week van Januarie af,” het hy gesê. Alhoewel die dansgroep hierdie jaar al by ʼn liefdadigheidsorganisasie en ʼn Gospelaand opgetree het, is hul groot vertonings die week van 1 Augustus.

Woensdag, 2 Augustus kry hul skoolmaats en die personeel die kans om die dansers in aksie te sien.

Donderdag, 2 Augustus is die algemene publiek welkom om te kom kyk. Die vertoning begin om 18:00 en kaartjies teen R40 per persoon sal vooraf by die skool asook by die deure beskikbaar wees.

Die tradisionele gala aand vind Vrydagaand plaas wanneer uitgesoekte gaste, waaronder die dansers se ouers, ander skoolhoofde en hooggeplaastes ʼn aansitete tydens die vertoning sal bywoon.

Skoolhoof Annelie Herbst sê die leerders geniet die dansgroep baie en dis verblydend om te sien hoe goed dit elke jaar vir hul selfvertroue is.

Sy hoop om volgende jaar ʼn paar borge te kry sodat die dansgroep weer vir ʼn slag nuwe uitrustings kan kry.

Hierdie jaar se vertoning bestaan weer uit ʼn groot verskeidenheid genres van twee Afrikaanse nommers tot by Gospel, Hip Hop en House Music.

Die kinders sing elke liedjie met oorgawe saam en hul energie is aansteeklik.

Die junior dansgroep bestaande uit graad 3’s gaan ook drie nommers opvoer, terwyl die seniors 13 nommers op die spyskaart het.

Laerskool Noordhoek is geleë in Johannes Brill straat CW4.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button