Local newsNewsNews

Veiligheidswag 10 jaar tronk toe nadat hy kampioenboksers se pa doodskiet

Die veiligheidswag wat in Desember 2018 vir Daniel “Danie” Christoffel van Heerden (61), pa van die kampioenbokser Donjuan van Heerden, doodgeskiet het is onlangs in die streekhof in Vereeniging gevonnis.

WALKERVILLE. – “Geregtigheid het geseëvier…God slaap nie.”

Só het die Gautengse middelgewig bokskampioen Donjuan “Iron Dragon” van Heerden op sy Facebook-blad geskryf op die dag wat die veiligheidswag wat in Desember 2018 sy pa, Daniel “Danie” Christoffel van Heerden (61), doodgeskiet het in die streekhof in Vereeniging gevonnis is.

Sabelo Patric Dlamini (43), ‘n voormalige veilgheidswag van De Deur, is op 21 Julie 2023, na ‘n hofsaak wat bykans vyf jaar geduur het, tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op van Heerden in Desember 2018.

Patric, wat in Desember 2018 in hegtenis geneem is en op 2 Januarie 2019 op borgtog van R5 000 vrygelaat is, is op 2 Februarie vanjaar op drie aanklagte, waaronder ‘n aanklag van moord en twee aanklagte wat verband hou met die rig van ‘n vuurwapen, skuldig bevind.

Vyf jaar van Patric se vonnis word vir ‘n tydperk van vyf jaar opgeskort.

Patric is ook drie maande tronkstraf elk opgelê vir die twee ander aanklagte wat verband hou met die rig van ‘n vuurwapen.

Die vonnisse op laasgenoemde aanklagte sal samelopend met die eerste vonnis uitgedien word.

Dit beteken dat hy in effek 10 jaar tronkstraf sal uitdien.

Patric het nie enige vorige veroordelings teen hom nie.

Sabelo Patric Dlamini (43) wat onlangs in die streekhof in Vereeniging gevonnis is vir die moord op Daniel Christoffel van Heerden (61). Foto: Christiaan Cloete

Patric het die oorledene op 27 Desember 2018 omstreeks 14:00 op die hoek van Johan le Rouxweg en Boundarystraat, naby ‘n bekende skrootwerf, met sy 7.65 mm CZ-pistool doodgeskiet tydens ‘n konfrontasie.

Danie het sy laaste asem in sy seun, Donjuan, toe 17, se arms uitgeblaas.

Die voorval is op video vasgevang en is wyd op sosiale media gedeel.

Donjuan het gedurende die hofsaak getuig dat vleis tot die konfrontasie tussen sy pa en Patric gelei het.

Donjuan van Heerden getuig in die hof met Sabelo Patric Dlamini in die beskuldigdebank. Foto: Christiaan Cloete

Donjuan het getuig hoe hy op die betrokke dag saam met Venecia Kunneke en sy pa na die slaghuis gery het om vleis te gaan koop, toe hulle ’n koeltrok en veiligheidsbakkie langs die pad aangetref het.

Hulle het onraad vermoed toe hulle gesien het hoe die bakkie langs die vragmotor stop en hoe vleis vining vanaf die veiligheidswag se bakkie terug in die vragmotor gelaai is.

Daarna het die vragmotor blykbaar vinnig die toneel verlaat.

Danie vir Patric gekonfronteer en hom gevra wat hy besig is om te doen.

Daniel Christoffel van Heerden (61) en Sabelo Patric Dlamini (41) tydens die konfrontasie wat tot Van Heerden se dood gelei het.

Nadat Patric hom gevloek het, het Danie glo gedreig om Patric se baas, Johan Bosch, wat Danie goed geken het, te bel.

Patric het toe sy vuurwapen uit die voertuig gehaal.

Danie het Dlamini se sleutels geneem.

Die situasie het geëskaleer en Patric het vir Danie ten aanskoue van Donjuan en Venecia geskiet.

Donjuan sê die feit dat geregtigheid geskied het, het hom aangespoor in sy geveg teen die Oos-Kaapse kampioen, Durandt Verwey.

Hy het die geveg wat op Vrydag 21 Julie 2023 by die Portugeese saal in Turffontein plaasgevind het 2 minute en 36 sekondes met ‘n tegniese uitklophou gewen.

Donjuan van Heerden het sy boksgeveg gewen op die dag wat sy pa se moordenaar gevonnis is. Foto: Facebook/Donjuan van Heerden (Deedee)

Van Heerden laat 13 kinders agter. Hy is die vader van Danie “Pitbull” van Heerden, ‘n voormalige EFC-swaargewigkampioen en Chris van Heerden, ‘n voormalige IBO wêreldweltergewig kampioen.

Chris, wat deesdae in die VSA woon,  het in ‘n plasing op Twitter geskryf: “Uiteindlik kan ons aanbeweeg…Dankie vir almal se liefde en ondersteuning…rus in vrede nou, my Pappa.”

Donjuan van Heerden en sy pa. Foto: Verskaf

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button