Borsvoedingsweek gevier by Sasolburg Hospitaal
1 - 7 Augustus is Wêreld Borsvoedingsweek.
SASOLBURG. – Dit is al oor en oor bewys dat borsvoeding die beste is vir enige baba veral in die eerste ses maande.
Elke jaar word Borsvoedingsweek wêreldwyd gevier. Hierdie jaar het die dieetkundiges van die Fezi Ngubentombi Hospitaal besluit om groot te gaan.
Hul bewusmakingsveldtog het 1 Augustus afgeskop met pienk ballonne, pienk baniere en twee inligtingsessies vir die personeel.
Die personeel, mans en dames, het ook so ver moontlik hul spesiale T-hemde gedra – roomyspienk vir die dames en wit en pienk vir die manne.
Tydens die inligtingsessies wat vir die personeel deur die loop van die week aangebied is, is die voordele van borsvoeding vir die moeders en babas bespreek.

Daar word hierdie jaar klem gelê op die reg van vroue om steeds hul babas te borsvoed na hul kraamverlof.
Die doel is om werksplekke so ver te kry om ʼn spesiale kamer of kantoor in te rig waar mammas hul melk kan uitpomp in privaatheid en gemak.
ʼn Kantoor met ʼn klein yskas en gemakstoel sal goed werk.
Senior Dieetkundige Karen Read sê alhoewel ʼn yskas gerieflik is, is dit nie noodsaaklik nie, aangesien borsmelk tussen vier tot agt ure by kamertemperatuur gestoor kan word.
Die melk kan ook drie tot ses dae in ʼn yskas en drie tot ses maande in ʼn vrieskas vars gehou word.
Naas die inligting wat oorgedra is, is die personeel wat die sessies bygewoon het, ook bederf met oulik versierde koekies, tuisgemaakte sop en brood.
