‘n Eerste vir die Vaal
Die Vaaldriehoek se eerste kompetisie vir snaarinstrumente is onlangs gehou.
HENLEY-ON-KLIP. – Die Vaaldriehoek se eerste kompetisie vir snaarinstrumente is onlangs met groot sukses aangebied.
Deelnemers van so ver as Alberton het 22 Julie by die Henley-on-Klip Primary School om kontantpryse meegeding.
Die deelnemers, tussen die ouderdomme van 4 tot 40 jaar, is volgens hul musiekeksamengrade in vier afdelings ingedeel.
Die beginners is gewen deur Machayla Taljaard wat met haar tjello bekoor het. Graad 1 – 2 se wenner was Joané Koekemoer wat vioolspel van uitstaande gehalte gelewer het.

Nog ‘n vioolspeler, Gemma Ciorovich het in die graad 3-afdeling met die louere weggestap.
Die graad 4-8 kompetisie is deur Vincent van Schalkwyk met sy uitmuntende kitaarspel gewen.
Hy is ook as algehele wenner aangewys. Die kompetisie is geïnisieer en geborg deur Johann Kruger van JJC Kruger Gehoorsentrum en georganiseer deur Christina van der Bijl, eienaar en musiekdosent van The Music Room in Henley-onKlip.
Die bekende violis, Evert van Niekerk, was die beoordelaar en hy het die deelnemers aangemoedig met goeie wenke en inspirerende kritiek. Daar word beoog om hierdie kompetisie ‘n jaarlikse instelling te maak.
