Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK - 'n Joernalis kan nogal paniekerig raak as 'n notaboek voete kry.

RUBRIEK. – Ek het ‘n ding oor ‘n pen en ‘n notaboek. Ek moet altyd beide hê, want mens weet nooit wanneer kry ek ‘n bevlieging om iets te skryf nie.

Was al so van kleintyd af. Altyd aan’t versies skryf of dagboek gehou. Baie van die versies het ek nog.

Die dissipline om elke dag dagboek te hou ontbreek en die kere wat ek dit wel reggekry het, het ek dit met die weer lees tot nonsens verklaar en asblik toe gestuur.

Uit die aard van my werk moet ek altyd ‘n pen en notaboek hê om die nodige aantekeninge te maak tydens onderhoude.

Ek neem nie onderhoude op nie en doen ook nie die video-ding nie. Ek is deel van die gedugte Generasie X, ons omarm net die nuwe tegnologie waarvan ons hou en klou vas aan die ouer goed wat vir ons werk.

Woensdae is my skryfdag. Die spertyd is Woensdagmiddag so net duskant 16:00 want dan word die blaaie vrygestel op die stelsel en ons senior redakteur Elsje kan begin om artikels na blaaie toe te allokeer.

Vir Vrydag se koerant, sien. Dit laat my op Woensdae met ‘n hewige frons op die voorkop en lang klaagliedere rondom die ketel.

Elke Woensdagoggend verklaar ek ek het skrywersblok en drink hopeloos te veel koffie. Hierdie Woensdag was dit ook nie anders nie.

Ek het my artikellysie oorgeskryf in my dagboek, al die nodige lêers op my rekenaar oopgemaak, mooi benamings gegee en die foto’s afgelaai.

Ek moet begin skryf. Na ‘n pakkie van my en Elsje se kantoorkoffie, kondensmelk cappuccino, slaan ek my notaboek met groot bravade oop.

Ek gaan nou begin skryf. Beloer die notas, daar is die een oor die skilder, Laerskool Noordhoek se dansgroep, die Rotariërs, Sasolburg Hospitaal se borsvoedingsweek…. ‘n Rooi liggie begin êrens te flits.

Ek weet ek het ‘n onderhoud met ‘n skrywer gedoen voor ek al bogenoemde onderhoude gedoen het. My notaboek stem nie saam nie. Net leë bladsye.

Dit tref my soos ‘n bom. Ek het mos nou die dag weer in groot haas en met geen spoed die verkeerde notaboek gegryp toe ek halfpad laat by die kantoor uitgestorm het.

Die vraag is, waar is daardie spesifieke notaboek? Ek loer in my kamerasak, daar skuil gewoonlik ‘n notaboek en ‘n pen of twee. Niks.

Ek blaai verwoed deur my dagboek. Dié lewer net ‘n los blaai met twee maande terug se notas van een of ander funksie op.

Ek pluk die tafellaai op. Daar is baie notas en notaboeke, maar dis almal vol geskryf en die datums boaan die bladsye vertel my dis beslis nie onlangs se notas nie.

Intussen het my ou vyand Spertyd sy swaard uit wat hy heel ongepoets teen die kantoormuur probeer slyp.

Skrywersblok sit soos ‘n opgeblaasde brulpadda die helfte van my tafel vol en my twee vriendelik metgeselle, Dagdroom en Verbeelding het weer histeries aan’t huile gegaan.

Nie een van hulle bied enige hulp aan nie.

Ek oorweeg dit om die storie te laat oorstaan na volgende week, maar onthou dan ekself het die betrokke storie die week in die Sterre geadverteer.

Ek sit. Ek wonder. Ek probeer dink. Waar is die ander notaboek?

Eindelaas gryp ek my motorsleutels en koers na waar myse Mich rustig onder die motorafdakke verder vuil word.

Pluk die kattebak oop, niks. Onder die sitplek vind ek wel my tydelike bestuurslisensie maar geen notaboek nie.

Dis toe wat ek maar voet in die hoek sit huis toe. Ma kyk verbaas op toe ek skielik by die huis inbars.

“Ek soek my notaboek,” seg ek en storm die studeerkamer binne.

Wraggies, daar lê notaboek toe doodluiters op die lessenaar waar ek dit vanoggend geheel misgekyk het.

Terug by die kantoor moes ek noodwendig vir my nog ‘n beker van daardie soet kantoorkoffie maak net om die senuwees tot bedaring te bring.

Met die kaffeïenvlakke versterk het ou Sperdatum darem sy swaard van my nek afgehaal en die moedswillige Skrywersblok het ten minste van my tafel afgeklim. Sela!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button