Michael en wyle Nicky se ma sê baie dankie!
'n Insamelingsgeleentheid vir Michael se rehabilitasie word vandag by Jackie's Pub in Sasolburg gehou.
Mev. Lena Rossouw, ma van die Pretorius-broers, Michael (21) en wyle Nicky Pretorius (23) wat op 28 Junie in die tragiese motorongeluk naby Sasolburg betrokke was, het vanoggend hierdie boodskap gestuur. (Let wel, Nicky het ‘n dag na die ongeluk gesterf en Michael word nog vir ernstige beserings behandel):
Goeie môre almal. Ek is Nicky en Michael se Mamma. Ek het nog nooit iets hier op die groepies gesê nie. Die rede daarvoor is dat hierdie laaste paar weke vir my baie swaar was as n mamma, en ek is ook nie iemand wat baie praat nie. Ek het net vanoggend gevoel ek moet ietsie sê. Ek wil vir ieder en elkeen van julle wat op die update groepies is baie baie baie dankie sê, vir elke oproep vir elke gebed en elke donasie. Sonder julle as gemeenskap sou dit nie moontlik gewees het om ons Michael kind in die rehabilitasiesentrum te kon sit waar hy nou is nie. Dit raak my hart so diep om te sien hoeveel mense omgee. Vir almal wat vandag se fondsinsameling gaan bywoon by Jackie’s pub. Baie baie dankie dit word opreg waardeer. Julle almal is amazing mense met mooi en goeie harte. Namens die Rossouw- en Pretorius-familie, baie baie dankie vir julle volgehoue ondersteuning. Groete, Lena Rossouw.
‘n Fondsinsameling ten bate van Michael se verdere behandeling word vandag, Saterdag, 5 Augustus by Jackie’s Pub & Entertainment in Minnaarstraat, Sasolburg, gehou. Almal is welkom om in die dag te kom deel. DJ Dirk en verskeie sangers sal optree, stalletjiehouers sal hul ware verkoop en kindervermaak sal verskaf word. ‘n Kontantkroeg is ook beskikbaar wees. Bring gerus jul families en kampstoele en kom kuier saam. Toegangsfooie is R50 per persoon en is alles ten bate van Michael se rehabilitasie.


