Local newsNews

Beweerde bedriegster glo ook in Vaal bedrywig

Mike Bolhuis bestempel haar as 'n "gewoontemisdadiger wat in die tronk hoort".

 

‘n Beweerde aanlyn-bedriegster teen wie verskeie sake van bedrog, diefstal en wanvoorstelling reeds elders in die land ondersoek word, is skynbaar besig om niksvermoedende mense ook in die Vaaldriehoek uit hul geld te swendel.
Vaalweekblad se susterskoerant in die Caxton-stal, Laevelder, het reeds in 2021 berig dat Larissa Maritz skuldig bevind en beboet is oor die diefstal van ‘n sleepwa, en voorts aangekla is van minstens ses voorvalle van bedrog wat verband hou met die verhuring of verkoop van vakansieverblyf in Marloth Park. Sy is tans glo uit op borgtog.
Haar swendelstreke is blykbaar nog lank nie op ‘n einde nie. Sy het vroeër die week ‘n Vaaldriehoekse man uit R6 000 verkul.
Die privaat-ondersoeker Mike Bolhuis en sy span is betrokke by die ondersoek na Maritz se bedrywighede. Sy word deur Bolhuis bestempel as ‘n “gewoontemisdadiger wat in die tronk hoort”. Sy gebruik glo minstens 10 verskillende skuilname op sosiale media.

Die Vaaldriehoekse sakeman wat vermoedelik een van haar mees onlangse slagoffers was, het versoek om sy ervaring anoniem met Vaalweedkblad te deel. Hy het die koerant vroeër die week laat weet van die stel wat hy pas met haar afgetrap het toe hy die helfte van ‘n R12 000-deposito vir ‘n huishuurooreenkoms aan haar betaal het. Hy vertel hier in sy eie woorde van sy ervaring:

“Ek het gereageer op ‘n plasing op Facebook (“Midvaal te Huur”), waar ‘n 4-slaapkamerhuis as “te huur” geadverteer is (in Golf Park, Meyerton). Die plasing was heel standaard, soos meeste soortgelyke plasings, met goeie gehalte foto’s en ‘n kontaknommer.
Ek bel toe die nommer en verwag om met ene Marius du Plessis te gesels in verband met die plasing. ‘n Vrou antwoord egter en stel haarself voor as Jenny (Jennifer Pretorius). Sy praat met my in Afrikaans, en klink heel vrolik en aangenaam. Met dié bevestig sy dat die eiendom steeds beskikbaar is. Ek sê toe vir haar, gebaseer op die foto’s, dat ek graag belangstel. Sy laat weet my toe dat daar ‘n keuringsproses is, wat natuurlik normaal is, en verskaf haar e-posadres waarheen ek die nodige dokumentasie vir haar kan stuur. (As ek nou terugdink, het ek myself eintlik meer skade aangerig as net die gelde wat ek verloor het. Sy sit nou met ‘n afskrif van my ID, my vrou se ID, my bankbesonderhede en talle ander persoonlike dokumentasie wat my ‘n potensiële slagoffer van “Identity Fraud” maak in die toekoms).

In die tydperk wat ek wag vir terugvoer, was daar ‘n paar rooi vlaggies wat opgeduik het, maar teen my beterwete het ek dit aan omstandighede toegeskryf en nie my kop daaroor probeer breek nie. Een van die eerste rooi vlaggies was dat die Facebook-profiel van die persoon wat die plasing geskep het, geen vriende en/of aktiwiteite op Facebook gehad het nie – net ‘n paar ander plasings met betrekking tot eiendomme wat te huur is. Weereens het ek myself oortuig dat dit dalk net ‘n geval was dat die man (“Marius”) ‘n paar eiendomme het, en sy vrou (“Jennifer”) die plasings namens hom bestuur.
Die volgende oggend vroeg ontvang ek ‘n WhatsApp-boodskap van “Jennifer”, met bevestiging van goedkeuring. In dieselfde asem laat weet sy my dat daar ‘n ander vrou is wat ook in die eiendom belangstel, maar dat sy nog haar dokumente moet aanstuur. Natuurlik, met die wete dat sulke geleenthede baie vining verdwyn, laat weet ek haar ek wil graag die deposito betaal om die kontrak te verseker.

Ek vra haar toe om asseblief solank die straatadres deur te stuur sodat ons verder kan gaan loer (weereens, teen my grein – maar hoopvol oor die geleentheid en bewus van hoe tyd-sensitief die situasie is. Met verwysing na die plasing weet ek toe net dit is in Wattellaan in Golf Park, Meyerton). Haar terugvoer was dat sy vir sekuriteitsdoeleindes nie die adres kan deurstuur voordat ‘n deposito betaal is nie. Ek kon dit nie heeltemal verstaan nie, maar “dalk het hulle in die verlede een of ander insident gehad en is hulle net veiligheidsbewus”, het ek gedink.

Ek en my vrou besluit toe om na Wattellaan te ry en te kyk of ons die plek kon opspoor om net ‘n beter “kyk” te hê. Met dié besef ons daar is ‘n hele paar eiendomme wat min of meer dieselfde eienskappe het, en dat dit nie so maklik is om die huis net uit die foto’s te identifiseer nie.
Ek kontak “Jennifer” toe en verduidelik dat ek bereid is om die helfde van die deposito dadelik te betaal, maar dan wil ek graag eers die plek sien voordat ek kontrak teken. Sy verduidelik toe dat sy eers met haar man moet gesels daaroor. Sy laat weet toe hy is tevrede en bevestig dat haar vriendin ons om 2uur die middag daar sou kry, en sodra sy daar is, sou sy vir ons die PIN location van die eiendom stuur. (Weereens, ek kan myself skop – dit is toe op hierdie stadium eintlik heel duidelik dat dit ‘n scam is, maar my hoop was dat ek verkeerd was en dalk oorreageer – siende dat sy vir my ‘n foto van haar Capitec-kaart met bankbesonderhede gestuur het, wat ‘n (valse) vorm van sekuriteit was.

Ek betaal toe die R6 000 (helfte van die deposito) as immediate payment, en kry toe bevestiging dat haar vriendin ons net so voor 2uur sal kontak en die PIN location sou stuur sodra sy daar is.
Omstreeks 2uur stuur ons ‘n boodskap aan haar dat ons op pad is Watellaan toe en net wag vir kontak vanaf haar vriendin. Toe die Whatsapp-boodskap gestuur word, kry ons net een “tick”. Ek sê toe dadelik vir my vrou “ons is ge-scam”. Sy sê “age-nee”, en my reaksie… “yup”.
Ek het langs die pad afgetrek en parkeer om die vrou in die hande te probeer kry. Ek probeer haar bel – haar foon is af. Probeer weer na ‘n paar minute – nog steeds af. Nog ‘n paar keer, steeds af. Teen 14h40 is ons op pad terug huis toe, en ek is op die foon met Capitec en FNB om ‘n saak van bedrog oop te maak. Op hierdie stadium wil dit vir my voorkom dat ek daardie geld nooit weer sal sien nie.
Dit strek vir my baie dieper as net die geld. In ‘n mate voel mens baie stupid, vies en ongelukkig – eerstens oor daar talle tekens was, tweedens oor dit jou vertroue in jou medemens verbreek, en derdens dat daar mense daar buite is wat opsetlik sulke dinge doen, sonder om ‘n oog te knip.”

* Vaalweekblad verneem dat voorvalle waar dieselfde bedriegster glo betrokke was, ook in Margate, Port Edward, Middelburg, Vanderbijlpark, Belair, Potchefstroom, Honeydew en Kriel aangemeld is. Bekende skuilname wat Larissa Maritz glo gebruik, is:

1. Seun Divan Rust
2. Melandrie
3. Michalene Pretorius
4. Mariska Maritz
5. Jenny Pretorius
6. Vanessa Opperman
7. Jean-Pierre Pretorius
8. Sam Klopper
9. Liehanke Bekker
10. Jeandray du Plessis.

Mnr. R raai lesers aan om deeglik huiswerk te doen sodat hulle nie in ‘n soortgelyke valstrik trap nie. Hy sê die les wat hy hieruit geleer het is dat mens individue of ondernemings wat op sosiale media adverteer, se bona fides eers deeglik moet nagaan voordat jy geld aan enigiemand oorbetaal.
Hy sê hy sal dinge voortaan anders doen en oplet na die volgende:
– as die Facebook-plasing se opmerkings gedeaktiveer is, beskou dit as ‘n rooi vlag.
– as daar min tot geen aktiwiteite of vriende op die Facebook-profiel is van die persoon wat die plasing gemaak het, beskou dit as n rooi vlag.
– weier volstrek om voort te gaan met die transaksie tensy die persoon die adres kan verskaf. Selfs dan, maak gebruik van Google Streetview om die eiendom op te spoor en vergelyk dit met die foto’s.
– Swendelaars kan ‘n gevoel van dringendheid skep om jou te druk om vinnige besluite te neem. Neem jou tyd en moenie haastig wees nie.
– Waar moontlik, maak gebruik van die dienste van betroubare eiendomsagente.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button