Gerrie Hadders, ‘n MS-lyer op ‘n missie
Maak nader kennis met Gerrie Hadders wat onlangs 'n boek uitgegee het oor sy pad met veelvuldige sklerose.
VEREENIGING. – Hy onthou toe hy met veelvuldige sklerose (MS) gediagnoseer is, het die spesialis vir hom gesê: “Ek kan jou nie gesond maak nie, maar ek kan jou pad beter maak.”
Dit was in 2009. Sedertdien het Gerrie Hadders geleer om met die siekte saam te leef.
“Ek laat my nie deur MS beheer nie,” vertel hy rustig. Gerrie se biografie, Just Keep S’myelin, is onlangs uitgegee.

Hy sê hy het na sy diagnose begin blog en sowat 18 maande gelede het hy vir Gina Vorster ontmoet. Saam het hulle besluit om blootstelling aan MS te gee.
Wat begin het as ‘n boek oor MS het uitgebrei om Gerrie se lewensverhaal te vertel.
Saam met die boek is die S’myelin Foundation gestig. ’n Organisasie sonder winsbejag wat fokus op die bewusmaking en bystand vir veelvuldige sklerose.
R50 van elke boekverkope word direk geskenk aan die organisasie. Gerrie ken die kronkelpaaie wat die lewe soms met jou kan loop.
Hy is in Vereeniging gebore nadat sy ouers vanaf Europa na Suid-Afrika verhuis het.
“My pa was ‘n Nederlander en my ma ‘n Duitser. Na die Tweede Wêreldoorlog het my pa ‘n kontrak by die voormalige Dorbyl gekry. Hy en my ma was op daardie stadium net vriende.
“Hy het sokker en bofbal gespeel en sy was ‘n gimnas en hulle het deur sport ontmoet,” vertel Gerrie.
Sy pa se kontrak het gestipuleer dat hy getroud moet wees. Dis toe dat hy Gerrie se ma gevra het om met hom te trou sodat hulle vir twee jaar in Suid-Afrika kan kom bly en werk.
“Hulle is nooit weer terug Europa toe nie en was 70 jaar getroud,” lag hy. Na skool het Gerrie by die NWU se Vaaldriehoekkampus gaan swot alvorens hy weermag toe is.
Op skool het hy uitgeblink in waterpolo, maar in sy weermagdae het hy rugby gespeel.
Vandag is hy steeds lid van die SA Weermag Veterane se Kiewietkommando. Gerrie het ook kompeterend geswem en was op sy dag ‘n lewensredder.
Teen die muur hang ‘n besonderse hemp gemaak uit stukke van sy waterpolo T-hemde en sy ou weermag rugbytrui.
Sy vrou, Gerda, het dit nog vir hom gemaak. “Ek het dit nooit gedra nie. Gerda is kort nadat sy die hemp gemaak het, in ‘n motorongeluk oorlede. Dit was in 1997.”
Daardie tyd onthou hy as ‘n tyd waarin hy net aangegaan en probeer oorleef het. Hy was enkel pa van ‘n baba van 18 maande en ‘n kleuterdogter.
Ten spyte van al die seer en hartseer wat hy al beleef het, bly Gerrie positief. “Kyk, almal kry dae wat jy net voel vandag kan of wil jy nie opstaan nie. Dis ook ok.
“Ek probeer om positiwiteit in my lewe te hou. Jy weet, ek het geleer jy moenie jouself opwerk oor iets waaraan jy niks kan doen nie.”
Op die oomblik doen hy goed. Die MS is onder beheer, hy is dankbaar vir sy mediese fonds wat sy medikasie betaal en ‘n goeie spesialis in Pretoria wat MS verstaan.
Alhoewel hy ‘n paar jaar gelede ongeskik vir werk verklaar is nadat die MS veral sy hande en bene begin aantas het, sê hy die internasionale maatskappy waarvoor hy al die jare gewerk het, kyk goed na hom.
“Ek is gelukkig. Ek het ‘n ondersteuningstelsel, mense wat omgee, my kinders en oudkollegas. Daar is mense wat met MS wat nie eens die toetse vir diagnose kan bekostig nie.”
Sy oë blink as hy vertel hoe ‘n oudkollega wat nie van draf hou nie een slag in Italië ‘n marathon aangedurf het om vir hom fondse in te samel.
Dis een van die redes waarom hy die boek die lig laat sien het en ook die S’myelin Foundation gestig het, sodat MS-lyers gehelp kan word.
Hy wil ook MS bewusmaking verder vat deur by geleenthede met mense te gesels oor die siekte en hoe elke persoon dit anders hanteer.
Gerrie bly nou weer etlike jare in Drie-Riviere nadat hy vir jare in Pretoria gewoon en gewerk het.
“Ek het net eendag besluit om terug te kom na my wortels toe. Dis hier waar ek grootgeword het en dis hier waar ek ‘n verskil wil maak.” Just Keep S’myelin is beskikbaar by Amazon Kindle en by www.glansboeke.co.za.
