Edward Britz – Skilder vind tuiste in Vanderbijl
Edward Britz het as kunstenaar al diep spore in die Vrystaat gelaat, maar nou is hy tuis in Vanderbijlpark.
VANDERBIJLPARK. – Hy is rustig, kunstig en kreatief. Edward Britz is ‘n kunstenaar by uitstek en kan met enige iets toor van ‘n verf kwas tot met blommerangskikking.
Die gebore en getoë Vrystater het hom in Vanderbijlpark gevestig waar hy ‘n huis met sy eggenoot, Franz Geldenhuys en hul vier Yorkies deel.
Edward, die jongste van 10 kinders, het sedert kleintyd al ‘n talent vir kuns getoon. Edward sê hy het eers van standerd 8 (graad 10) af skool regtig geniet.
Hy was vir sy laaste drie jaar ‘n leerling van die Hoër Handel en Kunsskool in Bloemfontein. “Ek het daar gefloreer en was die dux leerling en hoofseun in 1977,” onthou hy.
Veral die kunsklasse het vir hom uitgestaan. Hulle was slegs agt leerlinge wat kuns as vak geneem het en daarvan was vyf En gelssprekend, so al hul vakke se klasse is in Engels aangebied.
Na matriek was hy deel van die eerste groep jongmanne wat moes aanmeld vir die tweejaar verpligte diensplig.
Oor sy diensplig dae wei hy nie uit nie. “Ek wou dinge net mooi maak, nie doodmaak nie,” is sy enigste kommentaar.
Na die twee jaar diensplig is hulle ook vir twee jaar daarna nog opgeroep vir kampe. Edward is intussen getroud en sy seun, Michael is gebore toe hy besig was met grensdiens in Angola.
Daarna het hy by SAUK TV gewerk voordat hy terug is Bloemfontein toe. “Hillbrow het op daardie stadium regtig te rof begin raak en dis hoekom ek terug is Vrystaat toe,” onthou hy.

Hierna het hy verskeie spore gelaat in die Vrystaat. Van instrukteur by die spoorweë tot eienaar van sy eie winkel in Bloemfontein.
“Dit was ‘n blommewinkel waar ek ook mandjies en ander gevlegte items van die Worcester Skool vir Blindes verkoop het. Dit was besige dae, ek het baie blomme vir troues gedoen,” vertel hy.
Dan was daar die tyd wat hy kuns by die CVO Skool in Bloemfontein aangebied en later ook nagraadse kunsklasse by die Motheo College.
Sy onderwysjare was ook uitdagendejare, want hy was enkelouer vir sy twee kinders en hy het sy bejaarde moeder vir 18 jaar versorg. “My ma is oorlede net voor haar 100ste verjaardag.”
Nadat die kinders ook uit die huis is, het die leë nes bietjie te veel vir hom geword en het Edward by sy suster op Zastron gaan bly.
“Ek, wat gesê het ek sal nooit in ‘n klein dorpie gaan bly nie, was binne ‘n maand baie tuis daar. Ek het toe al vir Zoie (Yorkie) gehad en het gereeld met haar gaan stap. Almal het my geken as die “oom met die hondjie,” lag hy.
In Zastron het hy ook by die Maluti Hotel begin werk en was algou alles van sjef tot skoonmaker daar.
Hy het sy tyd in die hotelbedryf baie geniet en het selfs sy eie koffiehuis in die hotel begin met die naam van Blah Blah, waar hy sy eie tuisgebak bedien het.
Van Zastron is hy na Wepener waar hy kunsklasse aangebied het. “Ek het dit baie geniet. Vroue het op Saterdae oggende van so ver as Bloemfontein, Ladybrand en Aliwal Noord gery om die klasse by te woon.”
In 2020 het die Covid pandemie egter alles tot stilstand gedwing en nadat hy ‘n aflospos by die Gelukwaartsskool gehad het, het hy vir ‘n tyd lank in Parys gaan bly alvorens hy terug is Bloemfontein toe.
Intussen het hy en ‘n baie aantrek like sanger en orrelis vriende geword op Facebook en aan’t die gesels geraak.
Nie seker wie het wie se voete onder hom uitgeslaan nie, maar 8 Mei 2021 het Franz vir Edward in Bloemfontein gaan haal en die twee is in Desember 2021 getroud.
“Franz is die liefde van my lewe,” vertel Edward met blink oë. “Ons is albei kunstenaars maar op sy eie gebied. Daar is nie kompetisie nie. Frans is my kleur wat my laat skilder,” som hy dit op.
Na al sy omswerwinge het die kunstenaar uiteindelik rus in die Vaaldriehoek gevind. Hier ontwerp en maak hy al Franz se konsertbaadjies, en kan hy na hartelus skilder.
Verlede jaar tydens die groot orrel marathon by die NG Driehoek het Edward ‘n uitstalling van sy skilderye gehou wat binne twee ure uitverkoop is.
“Die mense van die Vaal is ongelooflik, hulle het my met ope arms verwelkom,” glimlag hy.

Agter sy glimlag is daar egter ook seer. Edward is onlangs met chroniese obstruktiewe longsiekte (COPD) fase 4 gediagnoseer.
Ten spyte van die skok nuus, bly Edward en Franz moedig en positief. Soos Franz op sy Facebookblad gesê het:
“Dit is COPD en daaraan kan hulle nie veel doen nie. Medikasie aangepas vir hart en longe… Suurstof gee verlig ting maar kan nie genees nie.
“Hierdie is die begin van ‘n lang pad en (ons) vra dat julle sal bly bid. Ons gee als oor in die hand van die Here.”
