Manie bederf buitelandse aanhanger met ‘n besoek en CD
"Dit gee my 'n warm gevoel in die hart om te weet daar is mense oorsee wat van sy musiek hou, al verstaan hulle nie al die woorde nie," sê Manie
VANDERBIJLPARK. – Die Suid-Afrikaanse sanger, Manie Jackson, sit al dekades lank stewig in die harte van duisende plaaslike bewonderaars maar hy het ook ‘n groot aanhang oorsee – veral in Amerika, Holland en België.
Een van sy buitelandse aanhangers, Sonja Boogarts van Rotterdam, Nederland, was onlangs op besoek aan Vanderbijlpark, waar sy gehoop het om nog van Manie se CDs te kon koop om haar versameling aan te vul. Sonja besoek Suid-Afrika elke vier jaar sedert 2003 om by vriende in die Vaaldriehoek en Herfsoord te kuier.
Toe Manie hoor van dié Hollandse bewonderaar wat so mal is oor sy musiek, het hy besluit om nie net ‘n CD aan haar te skenk nie, maar haar ook met ‘n besoek te verras waar sy by vriende in Vanderbijlpark tuisgegaan het.
Vir Sonja was dit ‘n groot oomblik om haar gunsteling Suid-Afrikaanse sanger in lewende lywe te ontmoet. Haar liefde vir Manie se sang kom reeds ‘n ver pad. Haar oorlede pa, ook ‘n Nederlander wat net een keer in sy lewe in Suid-Afrika was, het Manie se musiek jare terug al “ontdek” en dit van jongs af vir Sonja gespeel.
Gedurende die Covid-inperking in Nederland is haar bejaarde ouers twee dae na mekaar oorlede, en een van Manie se liedjies, “Pappa, hierdie liedjie is vir jou”, se lirieke is by haar pa se begrafnis voorgelees.
Met Manie en sy vrou Christel se besoek aan Sonja in Vanderbijlpark, moes sy hard aan die knop in haar keel sluk toe hy dié einste liedjie sonder begeleiding vir haar gesing het.
“Dit gee my ‘n warm gevoel in die hart om te weet daar is mense oorsee wat van sy musiek hou, al verstaan hulle nie al die woorde nie. Ek het self ‘n groot voorliefde vir Hollandse, Belgiesem Duitse en Franse musiek, al verstaan ek nie die betekenis van die woorde nie,” sê Manie.
Sonja het reeds verlede Saterdag teruggevlieg na Nederland, waar sy ongetwyfeld met ‘n warm hart na haar nuwe Manie-CD sal luister.
* Manie het in sy sangloopbaan al agt ateljee-albums vrygestel wat almal goue, platinum-, trippelgoue en dubbelplatinum-status bereik het. Sy algehele verkope strek al verby 350 000 eenhede. Hy is tans onder die Top 10 grootste verkopers in die Afrikaanse musiekbedryf. Hy is ook die mees bekroonde kunstenaar van alle tye in die amptelike SA Country Top 10 Melodie-toekennings. In die buiteland is hy al met die gesogte Udo Jürgens-toekening (Duitsland/Oostenryk) vereer vir sy lied, Leef vir Hom.


