Local newsNewsNews

Bokser takel Malema kaalvuis oor ‘Kill the Boer’-liedjie

Die internasionale professionele bokser van Meyerton, Chris van Heerden, meen liedjies soos “Kill the Boer” wat deur die EFF-leier Julius Malema gesing word is een van die redes waarom hy vandag sonder 'n pa is.

MEYERTON. – Chris se pa, Daniel “Danie” Christoffel van Heerden (61), is in Desember 2018 dood toe hy deur ‘n sekuriteitswag geskiet is tydens ‘n konfrontasie.

Sabelo Patric Dlamini (43), ‘n voormalige veilgheidswag van De Deur, is op 21 Julie 2023, na ‘n hofsaak wat bykans vyf jaar geduur het, tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op van Heerden in Desember 2018.

Vyf jaar van Patric se vonnis word vir ‘n tydperk van vyf jaar opgeskort, wat beteken dat hy in effek 10 jaar tronkstraf sal uitdien.

Chris het die afgelope week op die sosiale netwerk X (voorheen Twitter) gereageer nadat Julius Malema weer die omstrede “Kill the Boer” liedjie tydens ‘n onlangse EFF-saamtrek gesing het.

Mense sê dit is ons liedjies wat ons al vir jare sing. Ek verstaan dit, maar jy sing hierdie liedjies luidkeels op ‘n nasionale podium. Dit is breinspoeling,” skryf Chris in die plasing op die sosiale netwerk.

In ‘n video wat Chris na die tyd opgelaai het erken Chris dat sy plasing baie kritiek ontlok het.

Chris woon deesdae in die VSA, waar hy in invloedryke kringe beweeg.

Die Suid-Afrikaans gebore miljardêr Elon Musk wou ook onlangs by president Cyril Ramaphosa weet waarom hy niks oor Malema se gebruik van die lied sê nie.

Chris van Heerden saam met die Hollywood-ster Bradley Cooper. Chris beweeg deesdae in invloedryke sirkels in die VSA. Foto: Verskaf

Vaalweekblad het vroeër berig dat Patric vir Chris se pa op 27 Desember 2018 omstreeks 14:00 op die hoek van Johan le Rouxweg en Boundarystraat, naby ‘n bekende skrootwerf, met sy 7.65 mm CZ-pistool doodgeskiet tydens ‘n konfrontasie.

Danie van Heerden het sy laaste asem in sy seun, Donjuan, toe 17, se arms uitgeblaas.

Die voorval is op video vasgevang en is wyd op sosiale media gedeel.

Donjuan het gedurende die hofsaak getuig dat vleis tot die konfrontasie tussen sy pa en Patric gelei het.

Donjuan het getuig hoe hy op die betrokke dag saam met Venecia Kunneke en sy pa na die slaghuis gery het om vleis te gaan koop, toe hulle ’n koeltrok en veiligheidsbakkie langs die pad aangetref het.

Hulle het onraad vermoed toe hulle gesien het hoe die bakkie langs die vragmotor stop en hoe vleis vining vanaf die veiligheidswag se bakkie terug in die vragmotor gelaai is.

Daarna het die vragmotor blykbaar vinnig die toneel verlaat.

Wyle Daniel “Danie” Christoffel van Heerden met sy ander seun Donjuan “Iron Dragon” van Heerden. Foto: Verskaf

Danie het vir Patric gekonfronteer en hom gevra wat hy besig is om te doen.

Nadat Patric hom gevloek het, het Danie glo gedreig om Patric se baas, Johan Bosch, wat Danie goed geken het, te bel.

Patric het toe sy vuurwapen uit die voertuig gehaal.

Danie het Dlamini se sleutels geneem.

Die situasie het geëskaleer en Patric het vir Danie ten aanskoue van Donjuan en Venecia geskiet.

.

Chris van Heerden saam met Charlize Theron. Foto: Verskaf
Julius Malema. Photo: Twitter/ EFF

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button