Gemeenskap steeds geskok na wrede moord op ma van ses
"Sy het vir haar kinders gelewe en alles wat sy kon, vir hulle gedoen, al het sy self swaargekry," sê haar ouers
VANDERBIJLPARK. – Skokgolwe kring steeds uit in die dorp se CW-woongebiede na die grusame moord op me. Beaula Ellis (39) op Dinsdag 25 Julie.
Beaula was die aand te voet op pad na haar woonstel in NW7 toe sy in Curie-boulevard, in die omgewing van Sand & Stone, wreed aangerand en in ‘n sloot agtergelaat is.
‘n Geskokte werknemer van die onderneming het eers die volgende oggend op haar liggaam afgekom en sy werkgewer ingelig, waarna die polisie ontbied is.
Beaula was die ma van ses kinders (vier dogters en twee seuns) wat onderskeidelik 4, 9, 13, 15, 17 en 21 jaar oud is. Sy was ook die ouma van ‘n kleutertjie van 2. Beaula sou Maandag, 31 Julie haar 40ste verjaardag gevier het. Sy was haar gesin se broodwinner.
Volgens haar ouers, Franses en Patrick Ellis van Vanderbijlpark, was sy ‘n saggeaarde, vriendelike mens wat altyd geglimlag het en altyd ‘n bemoedigende woordjie vir ander gehad het. Sy was voorheen ‘n voltydse karwag maar het die afgelope tyd net uitgehelp by spesiale geleenthede. Sy was die dag van haar dood deel van ‘n sekuriteitspan wat karwagdienste by ‘n aandbyeenkoms van die Hoërskool Transvalia gelewer het.
Haar ouers het om 20:43 die aand die laaste keer van haar gehoor, toe sy haar ma laat weet het dat sy klaar gewerk het en vir ‘n dame wag wat haar huis toe sou neem. Dit is onbekend of sy toe die saamrygeleentheid gekry het, en of sy die sowat vyf kilometer huis toe alleen begin stap het. Sy was skynbaar wel te voet toe sy naby haar bestemming aangeval is. Haar moordenaar/s was teen Vaalweekblad se saktyd nog nie vasgetrek nie en die motief vir die moord is nog onbekend.
“Sy het vir haar kinders gelewe en alles wat sy kon, vir hulle gedoen, al het sy self swaargekry. Baie mense sal haar onthou as die vroutjie wat altyd met die trollie geloop het en bottels en bokse bymekaargemaak het vir herwinning. So het sy die pot aan die kook gehou vir haar gesin. Sy het nooit ander mense vir hulp gevra nie,” sê haar pa. “Beaula was ‘n wonderlike kind vir ons. ‘n Mens kon altyd op haar knoppie druk.”
Buiten haar ouers en kinders word Beaula ook deur haar kinders se pa, ‘n broer en ‘n suster oorleef. Volgens Beaula se ouers sal hulle en hul ander dogter nou na haar jong kinders omsien.
- “Die mense van ons woonbuurt is baie geskok want ons besef hier loop ‘n moordenaar tussen ons rond. Ons kan nog nie glo Beaula is so wreed hier onder ons neuse vermoor nie,” sê ‘n vroulike inwoner van die gebied. Vaalweekblad verneem dat ‘n tweede moord enkele dae later in die CW-gebied gerapporteer is. Die slagoffer, ‘n jong witman, is omstreeks 04:00 die oggend van 30 Julie dood op die sypaadjie op die hoek van Einstein- en Beaconstraat aangetref. Hy het hoofbeserings en opvallende wonde aan sy gesig, oë en mond gehad. Hy het ‘n blou Uzzi-baadjie, ‘n blou denim en swart tekkies aangehad. Geen verdere inligting is in hierdie stadium bekend nie. Enigiemand met inligting word versoek om die Vanderbijkparkse polisie te kontak.

