Shalaine spog met sakke vol sporttalent
Dié talentvolle dogter het die geleentheid om oorsee te gaan toer. As deel van 'n fondsinsameling om die toer te laat realiseer, word daar op 18 Augustus om 18:00 'n prettige Donkey Derby by Noordskool in Sasolburg gehou.
VANDERBIJLPARK. – Waar dit by sporttalent kom staan die 17 jarige Shalaine van den Berg (Hoërskool Transvalia) sommer voor in die ry!
Die pragtige blondekop blink uit in verskeie sportsoorte, maar dit is veral atletiek en hokkie wat die bloed vinniger deur haar are laat pomp.
Op die atletiekbaan blink sy uit in die 100m, 200m, 400m en spiesgooi. Sy het vanjaar deurgedring na die Gauteng-kampioenskappe in die 400m en spiesgooi, en het ook by ASA SA’s in die twee items deelgeneem.
Toe die winter aanbreek het sy vir Valia se eerste dogters hokkiespan uitgedraf. Dié span is ook vanjaar die trotse ligawenner. Die span het in die Kaap gaan toer van 3 tot 7 April.

Shalaine is ook gekies vir die d.o/19 wat aan die Bokkieweek in Kroonstad (3 tot 7 Julie) deelgeneem het, waarna sy by die SA o/19 Bokkiespan ingesluit is wat in Spanje gaan toer. Weens ‘n ander geleentheid wat dieselfde tyd plaasvind, moes sy egter die toer na Spanje van die hand wys.
Sy is ook gekies vir die d.o/19 Suid-Gautengspan wat by die interprovinsiale toernooi in Nelspruit met ‘n silwermedalje huistoe gekeer het.
Sy is ook gekies om vanjaar vir die Mzanzi Hawks span te speel tydens die JHL (Johannesburg Hockey League) wat plaasvind van 21 to 25 Augustus in Johannesburg.
Shalaine is ook gekies vir ‘n toerspan wat van 2 tot 12 Oktober in Nederland verskeie oefensessie gaan bywoon en wedstryde speel.
“Dit was van kleins af my droom om eendag van die wêreld se beste hokkiespelers te ontmoet,” sê Shalaine. Dié droom kan binnekort verwesenlik word.
Dit sal die eerste keer wees dat Shalaine oorsee te toer. Sy was reeds as laerskoolspeler gekies om oorsee te toer, maar haar ouers het destyds besluit dat sy te jonk was om so ver te reis.
“Sy het baie gebid en hard gewerk om weer die geleentheid te kry om oorsee te gaan toer. Shalaine glo met die Here se genade, harde werk en die regte gesindheid is enige iets moontlik. Ons wil dit graag vir haar laat realiseer, maar die koste is duur,” sê Shalaine se ma Marlize.
Die toer se kostes beloop R45 000. Shalaine en haar ouers het mede Valies se hulp nodig om toergeld bymekaar te maak. Daar word op 18 Augustus ‘n *Donkey Derby by Noordskool in Sasolburg gehou as fondsinsameling. Die pret begin om 18:00.
Daar sal ook gelukkige kaartjie trekkings wees met pryse op die spel. Vir meer inligting kan haar ma, Marlize, gekontak word by 083 3217 448.
* Donkey Derby is soos ‘n mini-perdewedren maar op hout donkies.
