Dooie bome praat nie
Bome word uitgekap om verskeie redes, maar hoekom word nuwe boompies nie aangeplant nie?
SASOLBURG. – ʼn Inwoner van Sasolburg het sy misnoeë uitgespreek nadat ʼn boom in Frikkie Meyerstraat, Saterdag 5 Augustus met groot lawaai afgesaag is.
Die inwoner werk nagskof en die hele petalje het hom van kosbare ure van rus beroof.
Hy sê hy vermoed dit was die munisipaliteit, maar daar is geen rede gegee hoekom die boom afgesaag is nie.
Boonop is die afgesnyde stukke net so langs die pad gelos. Teen Donderdagoggend het die stukke van die boom steeds daar gelê.
Hy vra dat wie ook al verantwoordelik is vir die afsaag van die boom, dit asseblief sal kom verwyder.
Die afsaag van bome in die groter Vaaldriehoek is besig om wye polemiek uit te lok.
Bome word om verskeie redes afgesny, van siektes tot by wortels wat paaie begin lig of pype beskadig.
Die probleem is dat daar nie nuwe bome aangeplant word nie. Dit terwyl bome noodsaaklik is om ekstra suurstof te produseer en huisvesting verskaf vir insekte en voëls.
Hoe lyk dit, kan die besigheidspersone en die inwoners met groen vingers nie saamstaan om weer bome aan te plant waar dit so uitgeroei word nie?
