Ter wille van die babas
Vrywilligers van alle ouderdomme span saam om hulpbehoewende mammas en hul pasgebore babas te help. Lees meer
VANDERBIJLPARK. – Dit het alles begin toe Amy Westerman (oorspronklik van Sasolburg) haar baba se te klein klere uitgedeel het.
Al gou het sy besef die nood daar buite is groot en sy het The Grace Factory tot stand gebring.
Dit was in 2013 in Johannesburg. Sedertdien het die nie-winsgewende organisasie van krag tot krag gegaan met takke in die Vaaldriehoek en KwaZulu-Natal.
Nie net is stigter Amy ‘n oud-Valie nie, haar kollega, Sarah Cressey het ook in Sasolburg gematrikuleer.

Ellouise van Vuuren, wat in beheer van sake staan van die Vaaldriehoektak, het ook in Sasolburg gematrikuleer maar woon tans in Vanderbijlpark.
Die drie, saam met hul vrywilligers maak ‘n groot verskil in die lewens van mammas en hul pasgebore babas.
Een manier hoe hulle dit doen is om pakkies vir vroue op te maak met van die basiese benodigdhede wat alles insluit van room tot by doeke en wet wipes.
Ellouise sê die meeste van die produkte kry hul deur maatskappy borge, maar dit is vir die opmaak van die pakkies en die babaklere wat hul op hul vrywilligers se knoppies druk.
Die vrywilligers brei babakousies, mussies en bababaadjies vir die premature babas tot by ongeveer twee jaar oud.
Een van die vrywilligers, Antoinette Botha sê haar ma brei elke dag ‘n bababaadjie vir The Grace Factory.
“Ons is verlore sonder ons vrywilligers,” beaam Ellouise. Die organisasie werk tans saam met 64 organisasies om seker te maak soveel as moontlik hulpbehoewende mammas en babas word gehelp.
“Ai, dit breek ‘n mens se hart as jy by ‘n hospitaal kom en ‘n mamma het slegs ‘n ou T-hemp om haar pasgebore baba in toe te draai,” skud Antoinette kop.
Wat hulle doen, doen hulle met ‘n passie en hul gesinne word ook gereeld ingetrek om te help.
“Ons het selfs mense wat vir ons die komberse omkap. Tannie Trish en Oom Graham sit heeldag voor hul omkapmasjiene (overlockers) om seker te maak die materiaal komberse wat gesny is, is mooi afgewerk,” glimlag Ellouise.
Hul vrywilligers strek tans van 8 jaar oud tot tannies in hul 80’s. “Ons hou nie vergaderings nie, daar is nie goed wat elkeen moet doen nie. Elkeen val in en doen soos dit die persoon pas.
“Ons is altyd op soek na skenkings van wol, gebreide en gehe kelde klere, speelgoed en goedopgepaste babaklere.”
Hulle het veral ‘n tekort aan klere vir premature- en pasgebore babas. Vir meer inligting oor The Grace Factory, asook oor watter maniere mense betrokke kan raak, besoek gerus hul webtuiste by www. thegracefactory.co.za.
