Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK. - Fyner as 'n Tinktinkie met 'n hart vol liefde. Ontmoet my nuwe maatjie, Mia. Lees meer...

RUBRIEK. – In die week het ek die voorreg gehad om nader kennis te maak met Mia Coetzee. Amptelik is sy 11. Vriendelik en eers bietjie teruggetrokke.

Sy laat my aan ‘n Tinktinkie dink. Porselein fyn. Haar ma sê Mia se verstand luier op die stadium so by die van ‘n vier of vyfjarige rond.

Die slim mense het haar met erge outisme gediagnoseer. Dis die feite, maar tydens die kuiersessie is dit nie van belang nie.

Mia se ogies blink helder, nuuskierig. Sy het haar ma se slimfoon beet. Hou dit na my toe uit. “Teken ‘n prentjie tannie.”

“Teken jy. Ek weet nie hoe nie,” beduie ek.

“Die tannie skryf nou eers,” sê haar ma. “Hoekom?” vra Mia.

“Dis my werk. Ek skryf vir die koerant,” my antwoord.

“Hoekom?” sy klink opreg verbaas dat enige iemand eerder sal wil skryf as teken. Ek het nie vir haar ‘n antwoord nie.

Sy vat ‘n hap van haar geroosterde kaasbroodjie op haar bord. “Dis warm,” sê sy. Trek dan weer die foon nader. Sy het ‘n speletjiesprogram vir kleuters oop.

Ek weet ek moet op die onderhoud konsentreer, maar die fyne Tinktinkie trek my in haar wêreld in.

“Kom ons kliek op die hoender,” besluit ek, en die vingertjie woerts warts vinnig oor die skerm om die speletjie oop te maak.

‘n Doolhof verskyn op die skerm. ‘n Hoenderprentjie aan die een kant en ‘n mielie aan die ander kant. “Kliek op die mielie,” sê sy.

Ek doen en die hoender beweeg. “Nee man, hoe werk dit nou?” wil ek verbaas by haar weet.

Tinktinkie lag lekker, voordat sy behendig weer die hoender terug op sy plek kry. “Probeer weer,” is haar raad.

Saam sit ons en speel en hoe meer ek “sukkel”, hoe meer lag sy.

Op ‘n stadium onthou ek weer van haar ma en die onderhoud en verskuif my aandag so bietjie.

“Hey,” sê sy en skuif weer die foon oor die tafel. “Nee, mens praat nie so nie,” raas haar ma dadelik.

“Ag, sy’t net bietjie my naam vergeet. Gerda is moeilik,” tree ek vir my nuwe maatjie in die bresse.

“Net bietjie vergeet van Gerda,” beaam sy plegtig en haar ma kan net lag.

Tinktinkie sit bietjie die foon eenkant. “Vertel die tannie wat is jou gunsteling diertjie,” sê haar ma.

Die gesiggie straal dadelik. “Hondjie. Sy naam is Velle en hy is net sewe weke.”

Behalwe dat sy baie lief is vir haar hond, vertel sy my sy hou ook van puzzle bou en visvang.

Elke aand gaan slaap sy met haar beertjie en een pop aan haar een kant en haar ander pop aan haar ander kant.

“Slaap jy in jou eie bed?” vra ek. “Ja,” kry ek dadelik die versekering, “Jesus sit elke aand op my bed.”

Tinktinkie hou baie van Bybelverhale en sy is op haar gelukkigste as sy in die kerk kan sing.

Sy het ‘n gunsteling Bybelvers ook. “Dis Matt 5. Ek sal nou vir jou sê wat staan daar,” sê sy, maar kry weer die foon beet en vergeet dat sy my nog wou gesê het.

“Mag ek maar ‘n foto van jou neem?” vra ek en haal my kamera uit. Tinktinkie val dadelik haar ma om die nek en glimlag breed vir die kamera.

“Dankie,” seg ek. “Neem nog. Neem my foto,” sê sy en lag heerlik toe ek die kamera soos ‘n wafferse pro in alle rigtings draai om foto’s te neem.

Ons stap saam uit die koffiewinkel. Sy loop ‘n tree vooruit. “Waarheen gaan jy?” vra sy toe sy sien ek is op haar hakke.

“Ek weet nie. Ek volg jou. Waarheen gaan jy?” vra ek en sy lag weer.

“Ons gaan nou ry,” beduie sy. “Ek ook,” verklaar ek. Ons stop by hul motor. “Waar is jou kar?” vra sy. “Daar anderkant. Die bloue,” beduie ek.

“Blou,” herhaal sy en waai nog vir oulaas voor sy in die motor klim.

Tinktinkie. Mia. So ‘n klein mensie met so ‘n helder siel en sagte hart in hierdie harde wêreld.

Die wêreld waar mense almal in boksies wil druk en etikette om hul nekke wil hang.

Wat gaan van jou word Tinktinkiekind? Hoeveel seer en verwerping het jy al ervaar? Hoeveel keer wou maatjies nie met jou speel nie?

Het mense blindelings geoordeel? Nie verstaan nie. Nie probeer om te verstaan nie.

Ek wens ek kon langer in jou seepbel reënboogwêreld kuier. Daar waar mens sommer net kan lag, net kan wees, maar bowenal wens ek, ek kon meer vir jou en al die ander reënboogmense van die lewe doen.

Want dis die Tinktinkies soos jy wat my nog altyd die meeste van die lewe geleer het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button