Christo, die orrel maestro kan toor met ‘n pyporrel
Van Switserse klokkespel tot by pyporrels, Christo Erasmus toor die mooiste musiek uit elke instrument. Lees meer...
VANDERBIJLPARK. – Christo Erasmus is amptelik ‘n hoofaankoper by ‘n groot maatskappy in Johannesburg.
Dis sy dag werk, waar hy ernstig, pligsgetrou en met ywer al vir jare aan sy beroep bou.
Maar, dit skets nie die hele prentjie nie. Christo is ook ‘n musikant met ‘n passie vir pyporrels.
As musiekdirekteur by die NG Vanderbijlpark Suid gemeente kry hy hope geleentheid om sy kreatiwiteit uit te leef.
Hy het onlangs ‘n sop en sjerrie orrel-aand aangebied om geld in te samel om die kerk se pyporrel te herstel.
Tydens die geleentheid het hy oud en jonk weer verras met hoe die orrel onder sy vingers lewe kry.

‘n Tradisionele orrelis is Christo beslis nie. Hy sal enige stuk op die orrel probeer en dit regkry.
Trek sommer ook los en speel Meatloaf se I will do anything for love op die orrel en volg dit op met ‘n vrolike kombinasie van ou Afrikaanse volksliedjies, insluitend Sarie Marais.
Nooit gedink ek sou dit op ‘n kerkorrel hoor nie. Wat ‘n voorreg om onverwags ‘n privaat uitvoering deur ‘n orrel maestro op ‘n Dinsdagaand in ‘n leë kerkgebou te kry.
Christo speel alles sonder bladmusiek en kry dit reg om met my te gesels terwyl sy vingers en voete ewe vinnig trap en speel.
Lief vir musiek was hy nog altyd. Hy was maar drie jaar oud toe hy klavierles begin neem het.
Op ‘n stadium in die laerskool was hy in Botswana in die koshuis. Daar het sy musiekjuffrou gou besef klavierspeel is vir hom ‘n frustrasie en sy het hom aan die orrel bekendgestel.
Dit was liefde met die eerste noot. “As iemand my vra van watter musiek ek hou, sê ek altyd heavy metal,” lag hy lekker.
“Ek meen, kyk net hoeveel sware hout en metaal is in die orrel,” beduie hy na bo waar die orrel se groot pype tot amper teen die hoë kerkplafon strek.
Op 12 het Christo sy eerste pos as orrelis by die NG Moedergemeente in Roodepoort aanvaar.
Vandaar het hy nog nooit teruggekyk nie. Hy het na skool musiek studeer en sê hy leer vandag steeds.
“Saterdae oefen ek en doen voorbereiding hier by die kerk. Die orrel is dan my wegkruipplek, waar ek van al die werkstres en dinge kan vergeet en op die musiek kan konsentreer,” beduie hy.
Hy het vir lank aan die Wesrand gebly en oor die jare by verskeie gemeentes bedien.
Christo beskou elke orrel as sy preekstoel. “Ek maak nie net musiek nie, ek speel die lied. It’s not the instrument, it’s the user,” verklaar hy beslis en trek los met ‘n hoendervleis weergawe van In die Hemel is die Heer.
Die orrelmusiek borrel vrolik deur die kerkgebou. Christo kry dit reg om die ou pyporrel regtig lewe te gee, ‘n simbool van dank en lofprysing te maak.
Om uit die boks te dink was nog altyd sy sterkpunt. Hy pak dinge anders aan, het ‘n ligte aanslag op die orrel en doen alles met oorgawe.
Christo lag as ek hom vra hoe het hy in die Vaaldriehoek beland. “Die liefde is blind,” kom die antwoord kort en kragtig.
Sy lewensmaat is van Vanderbijlpark en hul woon op ‘n perdeplaas buite Deneysville. “Ek voer die perde, maar ek sal hulle nie ry nie,” vertel hy. Sy gunsteling is egter sy donkie, Issie.
Christo se groot droom is om groot kore in die Vaal te vestig. ‘n Droom wat hy met Vanderbijlpark se ander orrel maestro, Franz Geldenhuys deel.
Die twee beplan juis om eersdaags saam te begin oefen aan orrel duette. Naas die orrel, kan Christo ook Switserse klokke (cow bells) speel.

“Ek was op ‘n Kontiki toer deur Europa toe ek die eerste keer iemand gesien het wat die klokke bespeel het. Ek het dadelik vir my ook aangeskaf.
“Ek bêre die klokke vir spesiale geleenthede, want ek voel soms soos ‘n roomysverkoper met die goed. ‘n Mens moet optel en neersit en onthou wat staan waar en dit alles op die maat van die musiek,” lag hy.
Hy geniet dit om te reis en was al op ‘n geestelike reis na Israel, verskeie kere in Europa en het as 16-jarige saam met Open Doors bybels in Iran ingesmokkel.
Oor Kerstyd 2022 was hy en Gert in Wenen. “Ek het op al die groot komponiste se voetspore gaan loop. Dit was ongelooflik.”
Totdat hy weer die geleentheid kry om oorsee te gaan kuier, gaan hy voort om orrelmusiek toeganklik te maak vir almal.
“Ek geniet dit om met klank te speel en die beste uit elke orrel te bring,” en sy vingers toor nog ‘n slag die mooiste musiek op.
