Awie se linkerbeen nou ook geamputeer
Die gesin is baie dankbaar dat die operasie so vinnig by Cormed gedoen kon word.
Mnr. Awie Esterhuizen (71) van Vanderbijlpark, wie se regterbeen in 2022 weens gangreen geamputeer moes word, se linkerbeen is uiteindelik ook verlede week, op Vrydag, 11 Augustus, bokant die knieg afgesit.
‘n Gedeelte van Awie se linkervoet is reeds in Januarie in die Baragwanath-hospitaal afgesit nadat gangreen hier begin ontwikkel het. Die wond het aanvanklik mooi herstel danksy goeie weeklikse wondsorg by Emfuleni Mediclinic, maar het vroeër die maand skielik versleg toe ‘n aar wat ingeplant is om bloedtoevoer na die amputasiewond te verbeter, skielik verstop geraak het. Dit was gou duidelik dat die gangreen begin uitbrei het en dat sy linkerbeen ook afgesit sou moes word om sy lewe te red. Daar was egter nie plek in die Baragwanath-hospitaal om hom vir die operasie op te neem nie. Sy gesin het gehoop en -bid dat hulle hom by Cormed in Vanderbijlpark sou kon laat opneem vir die prosedure. Dit was ‘n geveg teen tyd maar gelukkig kon hy toe wel in Cormed opgeneem word, waar die amputasie Vrydag afgehandel is.

Awie se dogter, Christelle, sê die gesin is baie dankbaar dat die operasie so vinnig en suksesvol by Cormed gedoen kon word. Hy is gister uit die hospitaal ontslaan en sterk nou tuis aan. “Hy is nog in baie pyn maar vorder goed,” sê sy. “Ons is nou op soek na ‘n hospitaalbed wat met ‘n remote werk. My pa sal ook ‘n apparaat benodig waarmee hy homself bietjie kan optrek,” sê sy. As iemand dalk so ‘n bed het wat die gesin kan leen of teen ‘n billike prys kan oorkoop, sal hulle dit baie waardeer. Enigiemand wat kan help, kan Christelle kontak by 082 600 1144.

WAARSKUWING: Die foto onder toon Awie se wond na Vrydag se amputasie. Dit kan sensitiewe lesers ontstel. Moenie verder afrol as jy nie foto’s van so ‘n aard wil sien nie.

