Local newsNewsNews

Karwag soek man wat oor haar voet ry, wegjaag

’n 66-Jarige karwag van Vanderbijlpark is op soek na die man wat meer as ‘n maand gelede oor haar voet gery en toe met sy wit Ford Ranger bakkie van die toneel af weggejaag het.

VANDERBIJLPARK. – Bernadette Rheeder (66) sê haar voet is op nege plekke gebreek nadat die persoon oor haar voet gery het.

Sy verduur tans baie pyn en kan weens die besering nie meer as ‘n karwag werk nie.

Sy het intussen ook haar blyplek verloor omdat sy nie meer die huur kan betaal nie.

Bernadette Rheeder (66), ‘n karwag van Vanderbijlpark. Foto: Christiaan Cloete

Bernadette sê die voorval het op Saterdag 1 Julie 2023 tydens die Bonfire and Sherry Fees tussen 18:30 en 19:00 by die Centurions Motorfietsklub in Shakespearstraat gebeur.

“’n Vrou met ‘n Land Rover het in die pad gestol. Ek en ‘n paar van die bikers het die voertuig help stoot. Die man in die wit Ford Ranger bakkie het die Land Rover verbygevat en oor my voet gery,” sê sy.

Volgens Bernadette het die bikers wat saam met haar die Land Rover help stoot het die motoris laat weet dat hy oor haar voet gery het.

Bernadette sê die motoris het toe gesê: “Ag, f*k haar!” en van die toneel af weggejaag.

Volgens Bernadette het een van die omstanders probeer om sy nommerplaat te neem, maar hy is te vinnig daar weg.

Bernadette Rheeder (66) met ‘n verslag wat die skade aan haar voet bevestig. Foto: Christiaan Cloete

Bernadette is na die Johan Heyns-hospitaal geneem vir behandeling.

Haar been is steeds in gips.

Sy sal op 9 September vir ’n operasie aan haar voet gaan.

Bernadette sê sy het ‘n saak by die polisie aanhangig gemaak.

Sy sê die persoon is vermoedelik tussen 48 en 50 met swart hare en ry ‘n wit Ford Ranger bakkie.

Bernadette sê sy en haar prokureur sal wil graag met die persoon praat oor die pyn en lyding wat sy ervaar, sowel as die verlies aan inkomste omdat sy weens haar besering nie meer as ‘n karwag kan werk nie.

Sy sê sy is selfs bereid om ter versagting in die hof te getuig indien die man na die onderhandelingstafel kom.

Mense met inligting oor wie die persoon kan Bernadette se seuns Jody by 067 637 6640 of Simon by 082 829 9737 skakel.

Bernadette Rheeder (66) wil hê die persoon wat ongeveer twee maande gelede oor haar voet gery het moet saam met haar en haar prokureur na die onderhandelingstafel kom om te praat oor die pyn en lyding wat sy ervaar, sowel as die verlies aan inkomste. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button