Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK. - 'n Mens is nooit te oud vir 'n nuwe ervaring nie. Ek weet, ek het nou die dag agter op 'n motorfiets beland. Lees meer...

RUBRIEK. – Ek is nie een vir lysies opstel oor wat ek nog eendag alles wil doen nie.

So hier en daar is daar natuurlik ‘n droom of twee wat in my agterkop kuier, maar ek het nie ‘n lys van dinge wat ek wil aanpak voordat ek die lewe verlaat nie.

Dinge gebeur meeste van die tyd net met my en dan as dit verby is, dan dink ek, ja dit was nou iets wat ek altyd wou doen, maar nie besef het nie.

Onlangs het ek een van daardie, haai oe, dit was nogals lekker ervarings gehad.

Waar het dit begin? Wel, etlike maande gelede op ‘n reënerige Saterdag was ons by die bikers se spesiale liefdadigheidsprojek.

Ek het so van onder die afdak die gedoente beloer en die motorfietse bekyk. Dit was toe dat ek terloops kwytgeraak het, miskien sal ek nog eendag op ‘n Harley wil ry.

Gesê en dit vergeet. Dis net, die organiseerder van die betrokke dag het gehoor en nie vergeet nie.

Op ‘n kouerige Woensdagoggend in Augustus is ons weer by die einste motorfietsklubgronde. Die keer om Vrouedag te vier.

Soos ek inry mik ek om voorlangs parkeerplek te vind. Met die uitklimslag storm Jacké, weer die organiseerder vir die dag, op my af.

“Nee, jy kan nie hier stop nie. Gaan parkeer daar ver onder die boom. Daar is ‘n rede” sê sy, en daar koers sy weer in ‘n ander rigting.

Ek wil nou nie halsstarrig wees tussen ‘n klomp bikers nie en skuif summier myse Ford, Mich na die aangewese plek. Net uitgeklim toe is Jacké weer by.

“Ons wag net vir Jamie,” sê sy. ‘n Klokkie, of liewer ‘n alarm, gaan in my kop af.

Jamie? Dit was mos die biker wat by die vorige geleentheid een van die sangers op sy motorfiets rondgery het tot voor die ingang.

“Nee,” sê ek. “Ja,” sê Jacké en roep ‘n jong meisie nader met ‘n selfoon in die hand.

Jacké hou my vas, ek het nêrens om heen te gaan nie. Die meisie het haar video aan. Jacké steek ‘n hele toespraak af.

Ek vang net so hier en daar ‘n woord van “bucket list” en “af tick”, terwyl ek glimlag vir die kamera.

Wel, op die oog af het dit soos ‘n glimlag gelyk. Dit was eintlik meer ‘n grynslag van vrees.

In my verbeelding sien ek al hoe kom ek ten eerste nie op die motorfiets nie, ten tweede hoe knak iets in die motorfiets as ek my sit kry en derdens hoe voeter ek sonder seremonie van die fiets af ten aanskoue van almal.

Ek blik in Liewe Vriend se rigting in die hoop dat hy my sal kom red. Maar, nee hy staan doer eenkant en maak of hy vreeslik besig is op sy foon. Ek weet sommer hy gaan lag.

Dan hoor ek die kenmerkende dreuning van ‘n Harley. Jamie Ross kom rustig aan gery, vat ‘n wye draai voor hy stop.

Ek beloer die motorfiets, dit lyk darem nie na een van daardie massiewe ysterperde nie.

Jacké gesels nog eenstryk deur. Ek benader die fiets. Ek hoor die man praat iets van links, maar die masjien raas ‘n bietjie, so ek kan hom nie lekker hoor nie.

Ek benader die gedoente van die anderkant af. Haal ‘n slag diep asem en hoop my middeljarige been skeur nie ‘n ligament in die proses om dit oor die rugkant van die sitplek te kry nie.

Die opklim verloop maklik. Ek kry my sit. Kom agter Jamie wil vir my iets sê. Maar hy’s Engels en almal weet my verstaan van Engels droog summier op sodra ek stres.

(Dis iets wat onlangs kop uitgesteek het. Seker iets met my ouderdom te doen.)

Vat my ‘n tydjie om agter te kom hy probeer my sê ek moet iets links afslaan sodat ek my voet daarop kan rus.

Intussen beduie Jacké waarheen gery moet word. Ek glimlag (grynslag) weer vir die kamera.

Skuif ‘n bietjie gemakliker en meet die afstand na die gebou toe met my oë. Darem nie ver nie.

Ek wou nog vir hom beduie hy moet hoedspoed ry. Dis ‘n term wat ek eenkeer in ‘n boek gelees het.

Die hoofkarakter het vir iemand gesê hy moet hoedspoed met ‘n motorfiets ry sodat haar hoed nie in die proses afwaai nie.

Maar, helaas, ek dink nog wat sal hoedspoed in die rooi taal wees, toe trek daai man weg.

Dit voel vir my ons ry verskriklik vinnig, maar toe ek later die video besigtig besef ek die man het net so gepoer-poer die minder as 300 m wat ons gery het.

Bene was skoon bewerig met die afklimslag, maar ek het darem nie afgeval nie. Was eintlik nogal ‘n lekker ervaring.

Miskien moet ek begin geld spaar vir so tweewiel yster van my eie… Sela!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button