Inwoners betoog na dae sonder krag
Frustrasie is besig om oor te borrel in Leeuhof en gedeeltes van Vereeniging se middestad. Inwoners is glo al vir dae lank sonder krag.

VEREENIGING. – Inwoners het Woensdagaand (23 Augustus 2023) paaie in die gebied met brandende bande versper.
Vaalweekblad verstaan De Villierslaan, Riebeeckstraat en ander strate in Leehof is geaffekteer.
Die polisie is ontbied om orde ter herstel.
Motoriste is aangeraai om hierdie gebiede te vermy nadat voertuie blykbaar met klippe bestook is.
Volgens Prudence Hlanyane, wyksraadslid vir wyk 15 van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit en DA-voorsitter in die Sedibeng-streek, het die krag Maandagaand omstreeks 23:00 af gegaan.
“Die probleem is dadelik geraporteer, maar die elektrisiëns het nie onmiddelik die probleem aangespreek nie. Die volgende oggend is die probleem weer aangemeld. Die elektriese span het eers (Dinsdagmiddag) omstreeks 12:00 mense uitgestuur om na die probleem te kyk.
“Eers teen 17:00 is die probleem geïdentifiseer. Hulle kon ongelukkig nie dadelik met herstelwerk begin nie aangesien daar nie ‘n kabel beskikbaar was nie.
“Vandag (Woensdag) het hulle vroeg in die oggend teruggekeer en gate begin grawe, net om te ontdek dat die fout nie daar is nie. Hulle is ntoe a ‘n ander plek en werk steeds aan die probleem,” vertel Hlanyane.
Hlanyane sê sy het deurlopend boodskappe aan die gemeenskap gestuur om hulle op hoogte te hou van die elektrisiëns se vordering.
“Hulle werk al sedert Dinsdagoggend aan die probleem,” sê sy.
Volgens Hlanyane is die grootste probleem dat die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit gereeld kontrakte aan onbevoegde mense toeken wat nie weet hoe om die werk te doen nie.
“Hulle gee kontrakte aan hul vriende. Daar is ook nooit enige dringendheid om probleme aan te spreek nie en dit neem dikwels lank vir herstelwerk om gedoen te word,” sê Hlanyane.
Volgens Hlanyane is daar drie bejaarde mense in die omgewing wat van suurstofmasjiene afhanklik is wat tans erg gebuk as gevolg van die probleem.
Sy sê daar is ook talle kleinsake-ondernemings wat skade gelei het weens die kragonderbreking.

