Moslem man gedreig na fopnuus-boodskap oor ontvoerde kinders
Die eienaar van 'n Islamitiese-stigting in Rietsruit is op Maandag (21 Augustus 2023) glo deur ontstoke lede van die gemeenskap gedreig nadat 'n fopnuus-boodskap oor ontvoerde kinders wyd op sosiale media gedeel is en liggelowige mense hom van ontvoering beskuldig het.
KLIPRIVIER. – Die polisie in die Sedibeng-distrik het Woensdag bevestig dat daar geen waarheid aan ‘n stemnota is wat te kenne gee dat kinders in die Kliprivier-omgewing ontvoer is vir die doeleindes van mensehandel nie.
Die stemnota is die afgelope week wyd op sosiale media gedeel en het tot gevolg gehad dat ‘n onskuldige man daarvan beskuldig is dat hy kinders ontvoer het.
Kol. Dimakatso Nevhuhulwi, ‘n polisiewoordvoerder, sê die polisie in Kliprivier het Maandag klag ontvang oor die eienaar van Islamitiese-stigting wat gedreig is nadat hy daarvan beskuldig dat hy kinders ontvoer het.
Die kinders bly glo saam met vier versorgers by die stigting en hulle woon ná skool en oor naweke bybelstudie by.
Die kinders is vir veiligheid na die polisiestasie geneem aangesien lede van die gemeenskap gedreig het om die stigting af te brand.
Die departement van maatskaplike ontwikkeling is ontbied en daar is toe vasgestel dat die 16 kinders tussen die ouderdomme van 8 en 13 vrywilliglik na die stigting geneem is om bybelstudie by te woon.
Met behulp van die departement van maatskaplike ontwikkeling is die kinders deur hul ouers opgetel.
Die polisie het nie ‘n saakdossier oopgemaak nie.
Die polisie doen ‘n beroep op mense om nie onbevestigde gerugte te versprei nie aangesien dit tot vals beskuldigings kan lei, mense tot geweld kan aanhits en tot die beskadiging van eiendom kan lei.
Lede van die gemeenskap word aangemoedig om kriminele aktiwiteite by die polisie se Crime Stop-nommer by 08600 10111 aan te meld of die MySapsApp te gebruik om vertroulik inligting aan die polisie deur te gee.

