Uit ‘n ouerhart – my kind het outisme
Met Casual Day net om die draai het Vaalweekblad by Sonja Coetzee en haar dogter, Mia gaan inloer. Mia het outisme in 'n erge graad.
VANDERBIJLPARK. – Dis nou al vir jare wat ons elke jaar Casual Day vier. Die dag wat spesiaal opsy gesit word om fondse in te samel vir persone met gestremdhede.
Hierdie jaar se tema is Deel ‘n glimlag. Elke jaar word die dag deur die Nasionale Raad van en vir Persone met Gestremdhede (NCPD) georganiseer.
Die NCPD se nasionale direkteur, Therina Wentzel sê: “Hierdie jaar se tema wil vriendelikheid, welwillendheid en positiwiteit ter ondersteuning van persone met gestremdhede bevorder in Suid-Afrika. ‘n Glimlag kan ‘n positiewe kettingreaksie met onmeetbare gevolge veroorsaak.”
Dis seker een van die natuurlikste en maklikste dinge in die wêreld, om ‘n glimlag te deel. Vir baie persone met gestremdhede is daar egter steeds baie seer agter hul glimlagte opgesluit.
Nie net vir hulle nie, maar ook vir die mense die naaste aan hulle. Mense verstaan steeds nie.
In winkels word daar steeds weggeskram van iemand wat dalk net nie heeltemal lyk of reageer soos die res nie.
Daar is selfs nog kleuterskole en hospitale waar mense nie opgelei is om kinders op, byvoorbeeld die outistiese spektrum, te kan hanteer nie.
Ongelukkig is daar nie genoegsame skole vir kinders met spesiale behoeftes nie. Die wat daar is, is reeds te vol.
Vra maar vir Sonja Coetzee, ma van Mia. Mia is 11 jaar oud, maar tans word haar verstandelike ontwikkeling op die van ‘n vierjarige geskat.
Mia is jare gelede as vlak sewe op die outistiese skaal geklassifiseer. Haar geboorte was traumaties vir haar en Sonja wat op daardie stadium geweldige hoë bloeddruk gehad het.
Ongelukkig het die staatshospitaal nie dadelik gereageer nie en is sy selfs, nadat sy reeds ‘n epiduraal gehad het, vir meer as ‘n uur in die teater vergeet.
“Ek het nie dadelik besef daar is fout met klein Mia nie,” vertel Sonja vandag. “Sy het van die begin af deurgeslaap en was ‘n baie stil kind.
“Sy het wel haar mylpale baie stadig bereik, maar ek het gedink elke kind het mos maar sy of haar eie tyd.”
Mia het eers op 2½ begin kruip en haar voetjies het na buite gewys. Sonja, wat op daardie stadium die dood van haar ouer dogter moes verwerk en ekonomies harde bene gekou het, het Mia in ‘n gewone kleuterskool geplaas.
Die staatshospitale het keer op keer vir haar gesê daar is niks fout met Mia nie. Uiteindelik het Sonja werk by wyle dr. CP de Jager as ontvangsdame gekry en het haar finansiële posisie verbeter.
‘n Mediese fonds kon sy steeds nie bekostig nie, maar sy kon vir Mia by die regte mense uitbring wat haar vermoedens bevestig het. Mia het outisme in ‘n erge graad.
“Ons hele huishouding het aangepas rondom Mia en haar behoeftes. Vandag kan sy steeds nie vlot praat nie, dra nog doek en sukkel om te eet. Sy weeg steeds net 14,9kg,” sug Sonja.
Mia is nie ‘n moeilike kind nie. Sy glimlag maklik, speel rustig op haar ma se selfoon tydens die onderhoud en vertel met groot entoesiasme van haar babahond Velle.
Dis moeilik om te glo dat die klein lyfie al menigmaal verwerping ervaar het. “Mense verstaan nie en kyk ons snaaks aan in winkels. Sy was al by verskeie skole waar sy net nooit inpas nie.
“Ek wil haar graag in Eurekaskool kry, maar blykbaar word plasings daar deur die Departement van Onderwys gedoen, die skool self kan my nie help nie.”
Mia het onlangs by ‘n nuwe dagsorgsentrum, die Flinke Dinkers ingeskakel. Dis ‘n privaatskool met slegs ‘n handvol leerlinge waar sy baie aandag kry en reeds maats gemaak het.
Sy is haar ma se hart se punt. Vyf minute in Mia se geselskap en jy vergeet jou eie stres en speel lustig saam met haar foonspeletjies.
Dis moeilik om te glo dat daar mense is wat Mia en ander persone met gestremdhede steeds verwerp, steeds aanstaar, steeds spot.
Onnodig. Onmenslik. Deel liewer ‘n glimlag en dra hierdie jaar ‘n Casual Day plakker met trots op 1 September. Daar is duisende Mia’s daar buite wat jou ondersteuning en liefde nodig het.
Die plakkers kos R20 per plakker en kan by Eurekaskool in Vereeniging gekoop word.
Hulle het jou ondersteuning nodig. Eurekaskool het onlangs ‘n toekenning ontvang vir die meeste plakkers wat verlede jaar vir Casual Day verkoop is.
Kom ons help hulle om die toekenning in die Vaaldriehoek te hou. Kontak Santie by 073 181 4096.
Daar is ook T-hemde, hoede en pette op die webtuiste, www.casualday.co.za beskikbaar.
