Groot denneboom afgesaag om pyp reg te maak
Een van Deerylaan se kenmerkende dennebome moes Donderdagoggend (24 Augustus 2023) afgesaag word sodat ’n waterpyp in die straat herstel kon word.
VEREENIGING. – Vir Metsi-a-Lekoa om die waterlek te kon herstel moes die boom en sy wortels eers verwyder word.
Verskeie van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se departemente, insluitend Metsi-a-Lekoa, die elektriese department en parke-afdeling was betrokke.
Dalene Venter, raadslid van Wyk 1 van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, sê dit is hartseer, maar daar is nie ‘n ander opsie nie.
Werkers van Metsi-a-Lekoa kon nie die pyp herstel voor die boom en sy wortelstelsel deur die parke-afdeling verwyder is nie.
Die elektriese department moes ook help want verskeie elektriese drade het tussen die boom se takke deurgeloop.
Die krag is tydelik afgeskakel sodat die drade verwyder kon word, sodat die boom afgesaag kon word.
Daarna kon die parke-afdeling die boom saag.
Die pype onder Drie Riviere is volgens Venter vrot en oud, met sommige van die pype wat al voor 1954 aangelê is.
Dit gebeur gereeld wat boomwortels ondergrondse pype beskadig en dit is juis waar dié boomryke buurt onder soveel waterlekke gebuk gaan.



