Sjef Pasch se Geelpap met Boerewors
Vaaldriehoek Sjef Pasch du Plooy deel een van sy gunsteling geelpap resepte met ons lesers. Lees meer...
DENEYSVILLE. – Polenta is ‘n stapel in die noordelike dele van Italië, hier word dit baie dieselfde gebruik as mieliemeel.
Polenta word gemaal van geelmielies, maar is fyner as braaipap en growwer as gewone mieliemeel.
Hierdie is een van my gunstelingdisse om met geelpap te maak: Voorbereidingstyd: 30 minute. Kooktyd: 60 minute. Bedien: 4 – 6 mense
Bestanddele vir die geelpap:
1 koppie geelmeel (polenta), nie die kits-tipe nie
2 koppies kookwater
2 koppies melk
½ teelepel sout
½ teelepel vars tiemie of droë tiemie
‘n Knippie growwe swart peper
½ koppie gerasperde Boerenkaas
2 klontjies botter
Metode: Voeg die kookwater, melk, kruie en sout eerste in ‘n middelslag swaarboompot. Bring die pot tot kookpunt.
Sodra die water kook, meng jy die polenta stadig in met ‘n handklitser, om seker te maak dat daar nie klonte vorm nie.
Draai die hitte tot laagste en plaas pot se deksel op. Kook vir 45 – 60 minute of tot gaar. Meng nou die kaas en botter by en voeg sout en peper by na smaak.
Vir die boerewors en tamatie
1kg dik boerewors, in 10 – 15 cm stukke gesny, opgerol in wieletjies en met ‘n stokkie of roosmaryn-takkie vasgesteek op die punt
2 blikkies groot tamaties, sonder skille
1 rooi soetrissie, klein blokkies gesny
½ knoffel huisie, fyn gekap of gerasper
1 wit ui, in fyn repies gesny
1 knippie brandrissie poeier
1 eetlepel tamatiepasta
2 eetlepels olyf olie
2 koppies water
3 eetlepels rooiwynasyn
2 eetlepels bruinsuiker
5 vars basiliekruid blare of ‘n knippie droë gemengde kruie
Sout en peper na smaak
Metode: In in swaarboompan, verhit 1 eetlepel olyfolie oor medium hitte. Braai die wors beide kante tot bruin, verwyder en plaas eenkant vir later gebruik.
In dieselfde pan, verhit die res van die olyfolie, en voeg dan die uie, knoffel, soet- en brandrissies by. Braai die uie en rissies oor lae hitte tot die uie goudbruin en gekarameliseer is.
Meng nou die tamatiepasta by en braai vir twee minute tot bruin. Voeg dan die res van die bestanddele by en bring tot kookpunt. Kook vir 20 minute of tot sous lekker dik is.
Voeg nou jou boerewors terug in die pan en kook vir 5 minute, of tot wors gaar is.
Vars kruiesous
¼ koppie vars sagte kruie (basiliekruid, vars koljander, pietersielie)
½ knoffelhuisie
¼ rooi ui
2 eetlepels rooiwyn asyn
2 eetlepels olyfolie
Skil van ½ suurlemoen
‘n Knippie Maldon sout
Metode: Voeg alle bestanddele in ‘n voedselverwerker en meng tot fyn. Voeg meer olyfolie by indien verlang. Gooi sout en peper by na smaak. Stoor die kruiesous in die yskas tot benodig.
Bros spek
6 – 8 repies spek, sonder vel
4 eetlepel canola olie
Metode:
Sny die spek in klein eweredige blokkies. Voeg die spek en olie saam in ‘n koue pan en verhit oor medium hitte. Roer die spek gereeld. Braai die spek vir 10 tot 15 minute tot lekker bros.
Gooi die spek in ‘n vergiettes sodat vet kan afloop. Stoor die spek op kombuispapier tot gebruik.
Bedien boerewors stukkies oor geelpap, met genoeg tamatiesous, bros spek en bedruip met vars kruie sous en ekstra gerasperde kaas.
Wenk: Die geelpap kan vir later gestoor word in ‘n yskas en met klein bietjie melk warm gemaak word en sal steeds net so lekker wees.
Resep deur Pasch du Plooy, www.pasch.co.za
