Honde toenemend in Midvaal vergiftig
Honde word toenemend in die Midvaal-omgewing vergiftig.
MEYERTON. – Die VF Plus se Gautengse LPW vir gemeenskapsveiligheid, Kobus Hoffman, het ʼn veearts genader om inwoners te bemagtig met die nodige inligting.
Hy sê daar is tans geen teengif oor die toonbank beskikbaar nie en slegs ‘n veearts kan diere behandel.
“Wanneer iemand vermoed ʼn hond is vergiftig, moet die dier dus dadelik na ʼn veearts geneem word,” sê Hoffman.
Hy sê: “‘n Alombekende raad is wel dat diere-eienaars geaktiveerde houtskool (activated charcoal) vir ʼn vermoedelik vergiftigde hond kan ingee. Dit is nie ʼn teengif nie, maar kan die dier dalk net ʼn beter kans om oorlewing gee totdat ʼn veearts bereik kan word.”
Die simptome van vergiftiging waarvoor diere-eienaars moet oplet, sluit onder meer in:
*Oormatige speeksel/skuim om die bek;
*Braking;
*Diarree of bloed in stoelgang;
*Verkleinde pupille;
*Spiertrillings (spiere wat vanself kriewel en nie dieselfde is as wanneer ʼn hond bewe nie);
Hoffman sê die vernaamste gif wat gebruik word, is die berugte en onwettige “Two Step”.
“Dit word gewoonlik in brood of ʼn stukkie vleis geplaas en oor heinings gegooi vir honde om te eet. Dié gif werk bitter vinnig en honde is binne minute buite aksie en in ondraaglike pyn. Misdadigers gebruik dan dié geleentheid om toegang te verkry tot die perseel,” sê hy.
Eienaars wat hul honde teen vergiftiging wil beskerm word aangeraai om die honde binne die huis slaap te laat slaap.
“Hulle sal jou steeds waarsku indien daar gevaar is,” sê Hoffman.
Hy meen mense moet ook, indien daar vermoed word dat daar die vorige aand betreders op die eiendom was, eers die perseel inspekteer vir enige verdagte items wat vergiftig mag wees voor die honde uitgelaat word.
Inwoners kan ook die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) kontak om hulp indien hulle vermoed hulle honde is vergiftig.



