Ek sê maar net…
RUBRIEK. - Soms ervaar mens onverwags 'n perfekte oomblik soos verlede week toe ek myself te midde van vyf "amateur fotograwe" bevind het.
RUBRIEK. – ‘n Gebore onderwyseres is ek beslis nie. Maar, ‘n hart vir die jongelinge het ek wel.
Nou die ander dag is ek op besoek aan ‘n spesiale dagsorgsentrum vir kleuters in die CW areas. Daar was op daardie stadium net vyf kinders, die sesde een het die week bygekom.
Alles gaan goed. Ek voer ‘n onderhoud met die eienares. Ek hoor haar hart. Hoe hulle die skooltjie vir die kinders van die omgewing begin het.
Hoe hulle dit klein wil hou sodat elke kind daardie spesiale individuele aandag kan kry. Ek hoor dat elkeen hul eie storie het.
Van die enetjie met outisme, die ander enetjie wie se ogies bietjie oormekaar trek, veral as hy moeg word.
Van ouers wat lang skofte werk teen minimale salarisse net om vir hul kinders ‘n beter toekoms te probeer verseker.
Dan kom die oomblik wat sy sê, kom ons gaan maak ‘n draai in die klaskamer. Met die intrapslag kyk vyf paar ogies dadelik op waar hul by gekleurde tafeltjies sit en klei speel.
Hul juffrou glimlag vriendelik. Endri, eienares van die dagsorgsentrum en moederhen in die huis, verskoon haarself om die kos te gaan maak
“Neem jy solank foto’s,” sê sy en verdwyn by die deur uit. Die kleine ogies loer onseker na my. Ek neem ‘n foto of twee. Maar iets werk nie lekker nie.
Ek troon hopeloos te ver bokant die kleingoed uit. Sak dan op my een knie langs ‘n tafeltjie neer en begin met klein Mia te gesels oor die klei waarmee sy speel.
Ek sien sy kyk vir die kamera. “Wil jy ‘n foto neem?” kry ek die ingewing. “Ja,” sê sy dadelik. Ek sit die kamera aan en beduie watter knoppie sy moet druk.
Sy sukkel, maar ek hoor die kamera klik. Haar gesiggie straal. “Weer,” sê sy en ek help haar om nog ‘n foto te neem. Die ander vergeet van hul klei en staan nader om die gedoente te aanskou.
“Een op ‘n slag,” keer ek toe te veel vingertjies tegelyk wil neem. Vergete is die vreemdheid. Vyf jongelinge en ek se aandag is nou by die kamera.
Die kamera word in alle rigtings gedraai en met groot konsentrasie word die knoppie gedruk. Die vingertjies het nie almal genoeg krag om die knoppie af te druk nie, maar dit is die idee wat tel.
Presies wanneer dit gebeur het is ek nie seker nie, maar toe ek my weer kry sit ek kruisbeen op die mat met al vyf op my skoot.
Hul juffrou staan eenkant en lag oor die petalje. “Ag neem ‘n foto asseblief,” sê ek en gee die kamera aan.
Dis ‘n hele gedoente om almal te kry om stil te sit vir die foto, maar geneem kry sy dit darem geneem. Kamera terug in my hande wil die kleintjies weer net foto’s neem.
Die kas word afgeneem, juffrou se bene, halwe foto’s van maatjies. Solank hul net die knoppie kan druk.
Dis amper tyd vir hul middagete en ek kan sien die heel kleinstes raak moeg en wil-wil begin stry oor wie se beurt dit is. Ek sit die kamera af. Die skerm gaan dood.
“En nou?” vra die blondekoppie op my skoot en druk op die skerm. “Die battery is nou pap,” verklaar ek plegtig.
“Ons moet dit charge,” het ‘n vierjarige dadelik die antwoord. “In die sitkamer,” voeg hy by. “Ja”, seg ek, maar ongelukkig is die charger by die kantoor.”
Op daardie oomblik kom Endri terug met hul worsbroodjies. Sy begin sommer lag.
Nie gedink sy gaan my kruisbeen op die grond aantref met Mia wat doodluiters besig is om met my hare te speel en die ander wat soos vinkies aan my hang nie.
“Etenstyd. Kom sit gou,” kry juffrou my nuwe maatjies almal terug op hul stoele. Saam bid hul hardop vir die kos. Endri bring sommer vir my ook ‘n bord.
“Wil jy nie liewer op die stoel sit nie?” vra sy. “Nee wat, ek sit nou heel gemaklik hier op die grond,” verklaar ek beslis. Die kleingoed kry hul sap, die grootmense hul koffie.
Daar sit ek in die middel van die week, kruisbeen op ‘n mat en eet hotdogs saam met vyf baie spesiale kinders. Wat ‘n voorreg.
Ek dink dit was een van daardie perfekte oomblikke wat die lewe soms na jou kant toe gooi. Onverwags. Onbepland. Sommer net. En dit was lekker.
Te gou moes ek groet. Dit was amper tyd vir die jongspan om te gaan rus en by die kantoor het ou Spertyd weer vir my gewag.
Maar, hier sal ek weer kom draai, al het my linkerknie my die volgende dag bietjie aangekla oor die gekruisbeensittery op die mat. Sela!
