Local newsNewsNews

EK sê maar net…

RUBRIEK. - Die Eurekaskool se sportdag is elke jaar 'n hoogtepunt. Lees meer...

RUBRIEK. – Na ‘n week van heerlike sonskyn en warm dae, raak die wind weer lastig verlede Vrydag. Die dag van Eurekaskool se spesiale sportdag.

Skielik is almal weer gebaadjie en loop koes-koes teen die wind wat sommer dwarsdeur in plaas van om jou wil waai.

Ek het die storie beloer en summier my hare bo-op my kop in ‘n lawwe poniestert vasgemaak.

Lyk verskriklik, ek weet. Maar anders sou ek nie ‘n enkele foto kon neem met al die hare voor my oë nie.

Maak maar of ek nie weet die haarstyl is nie my beste nie, en gesels op my gewone trant met almal voort.

Die sportdag lê my na aan die hart. Die eerste van sy soort het ek op hoërskool meegemaak toe my serebraalgestremde neef, Gerrie deel was van Amariskool in Welkom.

Ons het op die pawiljoen gesit en die gedoente dopgehou. Ai, sal ek ooit die jongeling vergeet met sy oorgroot wit rugbybroek en kouse wat tot waar opgetrek was.

Rooi hare. Ondeunde ogies wat sonder seremonie al sy pannekoek se sous op die mense onder hom afgeskud het.

Ek dink maar altyd terug aan Gerrie se Amari dae en ook die dae wat ek as deel van die Studente Jool Gemeenskapsdiens elke Dinsdagmiddag by die Amelia sentrum vir volwassenes met gestremdhede gaan vroteier speel het.

Dit was hul gunsteling speletjie. Wou nooit iets anders speel nie. Vrydag met Eureka se sportdag was dit ook nie anders nie. Ek was met my linkerbeen in die hede en my regterbeen in die verlede.

Nie vir lank nie. Die leerders wat so met algehele entoesiasme en oorgawe aan die items deelneem, vang enige een se aandag vas.

Ek neem ‘n foto van ‘n nieverbale seuntjie met Down Sindroom. Hy staan dadelik nader, beduie ek moet hom weer afneem. In plaas daarvan om stil te staan kom hy al hoe nader om seker te maak ek kry ‘n goeie gesigfoto.

Tevrede dwaal hy weer al agter die NWU se gelukbringer, Eagie aan. By die netbalpaal waar leerders kan doele gooi ten einde ‘n medalje te verdien is daar ‘n lang ry opgewonde gesiggies.

Een van Eurekaskool se onderwyseresse, Rika Dippenaar staan in die ry. Langs haar met haar hand stewig vasgeklem is een van Vanderbijlpark Lewenslig se inwoners.

“Ek gaan doel gooi,” glimlag sy. “Maar juffrou moet my hand vashou. Ek wil nie val nie.” “Wag, ek neem gou ‘n foto,” sê ek en die twee glimlag tog te mooi vir my.

Tinka Blignaut lees ek op haar naamkaartjie. “Gaan jy kyk en nog foto’s neem?”, vra sy en haar glimlag word breër.

Ek gaan staan my staan agter die paal om ‘n paar foto’s te kry. Nog een van die Lewensliggies kom aan die beurt. Sy konsentreer so hard om die bal in te gooi, haar pet waai van haar kop af.

“Ag nee,” sê sy, maar gelukkig is daar heelwat vrywilligers wat gereed staan om haar te help om hoed en bal weer in die hande te kry.

Uiteindelik is Tinka heel voor. Haar gesig straal as sy die bal sommer met die eerste probeerslag deur die ring stuur.

Die volgende paar kere is nie so suksesvol nie, maar met haar laaste gooi is die doel weer daar. “Die kant toe vir jou medalje,” stuur ‘n vrywilliger haar in die regte rigting.

Sy straal soos wat geen Olimpiese Kampioen al ooit gestraal het nie. Ek kyk om my rond.

Sien die trotse oupas met kameras. Mense wat leerders optel sodat hulle ook die bal kan skop. Ander wat met hope geduld help dat ‘n krieketbal op ‘n paaltjie raakgeslaan kan word.

Wat uitstaan is die totale vreugde wanneer iets reggekry word. Die ongelooflike deursettingsvermoë van ‘n 80 m klaar hardloop al is jy heel laaste.

Want, om die baan is daar ‘n hele skare wat tussen die trane in hul oë baie hard hande klap en juig vir elke atleet, elke leerder. Elke kind.

Wat ‘n groot voorreg om die dag te kan bywoon. Te sien hoe ‘n onderwyseres te midde van ‘n gesprek eers alles los, “want een van my kinders gaan nou deelneem.”

‘n Ander een kom verby, “ek gaan nou sit, my kinders het klaar deelgeneem.” Super trots op elkeen, dit kan mens sommer sien.

Ek het nou nie ‘n hoed opgehad nie, maar ek skud my lawwe, windbestande poniestert op my kop in erkenning aan elke helper, onderwyser en personeellid.

Dankie vir dit wat julle met soveel oorgawe vir hierdie vreugde-kinders van die lewe doen.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button