Local newsNewsNews

Politieke partye stem teen herafbakening van munisipale grense

Raadslede van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit voel oorwegend dat Drie Riviere deel van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit moet bly.

VEREENIGING. – Raadslede van agt politieke party het verlede week tydens ‘n raadsvergadering van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit gestem teen die voorgestelde herafbakening van munisipale grense van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit.

Die herafbakening behels dat wyke 1 en 20 van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit deel word van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit wanneer die munisipale grense herafgebaken word.

Dit sluit die buurte van Drie Riviere, Drie Riviere Oos en Drie Riviere Proper in.

Inwoners van dié buurte het vroeër tydens die publieke deelname proses aangedui dat hulle eerder deel van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit wil wees omdat hulle ongelukkig is met die ineenstorting van dienste in die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit.

Raadslede van agt politieke partye, insluitend die EFF, ANC, PAC, VF+, ACDP, New Horizons Movement, CSM en Vaal Lekgotla, het egter tydens die raadsvergadering op Donderdag 26 Oktober 2023 teen die wense van inwoners gestem.

Die Demokratiese Alliansie was die enigste party wat hierdie mosie gesteun het.

Raadslede van ander politieke partye het onder meer aangevoer dat dit die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se fiskus nadelig sou raak aangesien hierdie wyke – veral wyk 1 van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit – die meeste tot die munisipaliteit se geldkoffers bydra.

Indien Drie Riviere, Drie Riviere Oos en Drie Riviere Proper by die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit ingedeel sou word sou dit dus tot ‘n verlies van inkomste vir die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit lei.

Tumelo Ramongalo en Tebogo Thlokwe, twee DA-raadslede, het in ‘n gesamentlike verklaring gesê die party glo dat die wense van die mense voorkeur moet kry bo die “fiskale monopolie” wat gebruik word om inwoners van dié buurte gyselaar te hou.

Die afbakeningsraad het reeds inwoners se mening oor die beoogde herafbakening van die munisipale grense ingewin. Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit is ook die geleentheid gegee om oor die kwessie te debateer.

Die Demokratiese Alliansie onder die leierskap van Dalene Venter van Drie Riviere het dié veldtog gedryf en was aan die voorpunt van die kwessie.

Die finale besluit berus nou by die afbakeningsraad.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button