Lieben (6) herstel tuis na agtste operasie
Die sesjarige Lieben van Zijl van Vereeniging het in sy jong leeftyd reeds 7 breinoperasies agter, en was onlangs weer onder die mes.
VEREENIGING. – “Ek was ‘n senuweewrak want daar kan mos enige tyd iets verkeerd gaan tydens ‘n operasie. Maar dit was net een sny en die stent was uit my seuntjie se bors.”
So vertel ‘n dankbare Leandri van Zijl van Arconpark.
En mens kan verstaan dat sy baie bekommerd was, want haar jongste seuntjie, Lieben (6), het reeds 7 breinoperasie agter die rug waarvan ‘n aantal lewensgevaarlik was.
Hy moes na afloop van die breinoperasies ook chemoterapie kry, en om dié rede is daar ‘n stent in sy bors gesit.
Dit maak dit minder traumaties tydens behandeling.
Lieben is intussen kankervry verklaar en daar is besluit dat die stent uitgehaal kan word, aangesien hy nie meer chemoterapie kry nie.
Die keer was Lieben net 20 minute in die teater.
“Toe daardie teaterdeur agter Lieben toemaak was ek skoon siek,” vertel Leandri.
Maar die operasie is agter die rug en Lieben herstel baie goed. Hy het sommer ook skielik baie meer energie,” juis nou dat hy moet rustig wees met sy bolyf”
‘n Dag na die operasie het Leandri en pa Jaco egter besef dat Lieben se korttermyn geheue aangetas is in so mate dat hy nie kan onthou dat hy in die hospitaal was nie.
“Hy kan nie verstaan hoekom sy bors nou so seer is nie,” sê Leandri.


“Om sake te vererger Lieben hy vergeet dinge en dit maak hom hartseer. Maar ons bid oor die saak en glo en vertrou st klein breintjie sal nuwe konneksies maak”.
Nog ‘n bitter pil om te sluk is dat hul hospitaalplan nie meer Arbeidsterapie vir Lieben dek nie. Iets wat so belangrik is.
“Ons het met ons SARS geld al sy uitstaande rekeninge ens. betaal. Lieben se trust het huidiglik bitter min geld in, maar die terapie is van uiterste belang en op ‘n manier sal ons daarvoor moet betaal,” sê Leandri.
* Die Van Zijls se beproewing het verlede jaar April, so drie maande voor Lieben se vyfde verjaarsdag, begin.
Dit het begin met erge hoofpyn wat hy ervaar het. ‘n CT scan is gedoen en Leandri onthou hoe daar vir haar gesê is sy moet sit dat die uitslae met haar bespreek kan word.
Die Van Zijls moes hoor Lieben het “severe Hydrocephalus.”
Daar was ‘n massa in die middel van sy brein en hy moes dadelik per ambulans Netcare Alberton Hospitaal toe waar ‘n neuroloog hulle verder sou help.
Die gesin se lewens het inmekaar getuimel en sewe breinoperasie verder, kan hul vandag steeds hul seuntjie vashou en liefhê al het hy breinskade tydens een van die operasies opgedoen.
Lees ook:
