Leeuhof-moord: Alle klagtes teen beskuldigde #2 teruggetrek
Die hofsaak het 'n interessante wending geneem toe een van die beskuldigdes staatsgetuie gedraai het en alle klagtes teen hom teruggetrek is.
VEREENIGING. – Klagtes teen een van die vyf beskuldigdes wat van die moord op Benjamin Lotz (52) van Leeuhof aangekla is, is verlede week teruggetrek en hy is nou ‘n staatsgetuie in die saak.
Die moordverhoor vind tans in die Benoni-landdroshof plaas.
Estivan Delport, wat saam met die Metz-broers, Raymond Metz (21), Shane Metz (24), Simon Anton “Babatjie” Metz (18) en hul ma Lindi Falch (44) op die moord van Benjamin Lotz terreggestaan het is nou nie meer ‘n beskuldigde in die saak nie.
Delport is die eerste getuie wat verledeweek deur die staat ingeroep is om te getuig.
Hy is deur regter Carla van Veenendal gewaarsku dat klagtes weer ten hom heringestel kan word en dat hy vrae gevra kan word wat hom kan inkrimineer.
Delport het getuig dat hy en Raymond Metz tussen 18:00 en 19:00 op die aand van 22 November 2021 in ‘n straat in Leeuhof gesit en musiek luister het toe hulle deur inwoners gevra is die musiek sagter te sit.
Volgens Delport het hulle nie die musiek sagter gesit nie.
Delport het getuig dat die oorledene en ander inwoners van die buurt toe vir hom en Raymond gekonfronteer, waarna die oorledene vir Raymond met die stomp kant van ‘n panga op sy rug geslaan het.
Delport en Metz het toe saam na laasgenoemde se huis gegaan waar hulle Metz se broers en sy ma, Lindi, gaan haal het.
Volgens Delport het Raymond Metz se broer, Simon Anton “Babatjie” Metz, vir hom gesê om ‘n graaf en ‘n tuinvurk te bring waarmee Simon Anton die oorledene sou aanrand. Delport het getuig dat hy die wapens nooit aan Simon Anton oorhandig nie, en dat dit ook nooit tydens die aanval gebruik nie. In plaas van om dit te gebruik het hy dit op die gras buite Lotz se erf gelos.
Delport, die Metz-broers en hul ma is toe na die oorledene se huis waar hulle vir Lotz gekonfronteer het.
Volgens Delport se getuienis het die oorledene uit sy huis gekom met ‘n panga in die hand.
Hierna het ‘n woordewisseling tussen die oorledene en Falch ontstaan, waarna die oorledene volgens Delport ‘n halwe baksteen na Falch gegooi het.
Volgens Delport se getuienis het Shane Metz oor die oorledene se heining gespring, gevolg deur Raymond Metz en Simon Anton Metz.
Delport het getuig hoe die broers toe vir Lotz getakel het.
Volgens Delport het Falch vir hom gesê om ook oor die heining te spring aangesien die honde in die erf haar seuns gebyt het.
Volgens Delport wou Lotz in die huis in gaan, maar Raymond Metz het hom teruggetrek, waarna Lotz geval het.
Volgens Delport het die oorledene vir Simon Anton met ‘n panga oor die kop geslaan.
Shane het ook beserings opgedoen toe die oorledene op hom geval het.
Delport het getuig dat Shane en Anton Metz toe die die erf verlaat het en saam met Lindi Falch geloop het, maar dat Raymond steeds op die oorledene was en aangehou het om hom te slaan.
Volgens Delport het Raymond eers 1 tot 2 minute daarna by die res van die groep aangesluit.
Delport, Falch en Raymond Metz is later terug na die toneel toe hulle ambulansie en polisiemotors daar gesien het.
Volgens Delport het ‘n polisieman vir Lindi Falch gevra om die huis binne te gaan.
Toe sy uitkom het Falch glo vir Delport en Raymond Metz meegedeel dat Benjamin Lotz gesteek is.
Die twee is toe in hegtenis geneem en in ‘n vangwa gesit.
Die saak duur voort.