Nasionale kriterium-kampioenskap uitgestel
Speke gaan ongelukkig nie meer in Meyerton se afgesperde strate sing nie.
MEYERTON. – Die nasionale kriterium kampioenskap wat op die 31 Januarie in die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit sou plaasvind is uitgestel weens ‘n gebrek aan belangstelling.
‘n Kriterium, of krit, is ‘n fietswedren wat bestaan uit verskeie rondtes om ‘n geslote baan, met die lengtes van elke rondte wat tussen 400m tot 10 000m wissel.
Die kriterium-kampioenskap sou in die strate van Meyerton gehou word as deel van die nasionale fietsrykampioenskap tussen 31 Januarie en 4 Februarie – wat ‘n tydtoetskampioenskap en ‘n padwedloopkampioenskap insluit – maar is intussen afgestel weens ‘n gebrek aan belangstelling.
Fietsry Suid-Afrika het Dinsdag in ‘n verklaring gesê dat die wedren slegs sou voortgaan indien daar ‘n minimum van 25 deelnemers in elke kategorie is.
“In reaksie op waardevolle terugvoer van fietsryer wat met ons in gesprek getree het, is dit duidelik dat die geleentheid eerder oor ‘n naweek moet plaasvind. (Dit sou Woensdag 31 Januarie gehou word).
“Fietsry Suid-Afrika kyk daarna om ‘n onafhanklike kriterium oor ‘n naweek aan te bied en meer kategorieë in te sluit om die die algehele ervaring vir deelnemers te verbeter,” sê Fietsry Suid-Afrika in ‘n verklaring.
Fietsry Suid-Afrika sê ook dat fietsryers kommer uitgespreek het oor die tydtoetskamioenskap, padfietskampioenskap én kriterium op die selfde naweek plaasvind.
“Die waargenome hoë risiko vir ongelukke gedurende hierdie tydperk het gelei tot ‘n besluit om die kriterium van die tydtoets- en padkampioenskappe te skei, wat onmiddellik van krag is en tot in die toekoms strek”, sê Fietsry Suid-Afrika.
Die beheerliggaam het om verskoning gevra vir die ongerief wat deur dié besluit veroorsaak is.
