Wees gereed vir Goeiehoek se eerste Kontreimark van 2024!
Op 10 Februarie wag daar tonne smulgoed, kunswerke, ander handgemaakte artikels en pret by die Goeiehoek Kontreimark. Kom deel die dag saam met die boeregemeenskap van die omgewing!
MIDVAAL. – Die Goeiehoek Kontreimark se span stuur ‘n vrolike nuwejaarsgroet vir 2024 aan al hul markondersteuners!
Is jou rakke, vrieskaste, koekblikke (en beursies!) leeg na die lang vakansie? Dan is die Goeiehoek Kontreimark net die plek waar jy teen billike pryse alles kan kry om dié leemtes weer op te vul!
Kom geniet op 10 Februarie pure boeregasvryheid terwyl TNT se manne jou voete gaan kielie met hul op en wakker musiek.
Gratis ingang, veilige parkering, pap & kaiings… niks lekkerder as dít om die jaar mee af te skop nie. Kom oortuig jouself en bring sommer die familie, vriende en bure saam!
Mense met ‘n hart vir kultuursake kan foto’s van hulself laat neem in Volkspeledrag – die Vaalrivier Laer se lede gaan ook daar wees en sal klere vir sulke foto’s beskikbaar hê.
Weet julle dis vanjaar ‘n Skrikkeljaar? Nou toe dames, dan is die Goeiehoek Kontreimark nét die plek waar jy alles gaan kry vir Valentynsdag sodat jy die liefde in jou lewe behoorlik kan bederf!
Bloedskenkers is ook hartlik welkom om die dag te kom skenk by SANBS se staanplek.
Annatjie en die medewerkers van die kontreimark sien daarna uit om almal op 10 Februarie te verwelkom. Die mark sal aan wees vanaf 08:30 die oggend tot omstreeks 13:00 die middag. Trek gemaklike skoene aan, sit jou sonhoed op, bring genoeg kontant saam vir al die fantastiese kopies en kom geniet die dag saam!
Meer besonderhede is beskikbaar by 083 541 9908.
* Roeteaanwysings: Die Goeiehoek Kontreimark word op die plaas Bosrand in die Midvaalgebied gehou, sowat 12 kilometer vanaf 4Way Motors in Drie Riviere. Neem die R42-roete van Vereeniging na Heidelberg. Draai rigting Goeiehoek by die Meyerton/Goeiehoek-kruising. Na 4 kilometer vanaf die kruising, draai regs in die syaansluiting, rigting Goeiehoek. Bosrand is die eerste plaas op linkerhand ná die syaansluiting.





