VIDEO: Vereeniging Gimnasium nou amptelik ‘n parallelmediumskool
Die eerste groep Engelse Graad 8-leerders is Maandag by die skool verwelkom.
VEREENIGING. – Maandag 5 Februarie 2024 was ‘n geskiedkundige dag in die bestaan (en voortbestaan) van Vereeniging Gimnasium toe die skool amptelik tot parallelmediumskool verklaar is.
Die skool was sedert sy ontstaan in 2013 – toe Hoërskool Vereeniging en HTS Vereeniging saamgesmelt het – ‘n Afrikaanse enkelmediumskool, maar dinge het nou verander.
Met die aanvang van die 2024-skooljaar het Vereeniging Gimnasium ‘n parallelmediumskool geword, waar klasse voortaan ook in Afrikaans én Engels as onderrigtale aangebied sal word.
Die skoolhoof, mnr. Nelis van Dyk, het Maandagoggend die eerste groep Engelse leerders, wat van Graad 8 af onderrig in Engels sal ontvang, by die skool verwelkom.
Daarna is die gebruiklike inklokseremonie gehou om leerders by die skool te verwelkom.
Van Dyk het in ‘n kort toespraak tydens die saalopening gesê: “Baie mense is bang vir verandering en bekommerd dat ‘n Afrikaans-medium skool gaan verdwyn.”
“Ek wil elkeen vandag gerusstel en wéér bevestig dat die norme en waardes waarvoor Vereeniging Gimnasium bekend is altyd oorgedra sal word aan en ingeskerp sal word by ons kinders.”
